Waar is jou skat?

Mat 6:19-24

Onthou jy nog die fliek met die naam “Shindler's list”? Dit vertel die storie van die Duitse industrialis Oskar Schindler. Toe hy uitvind wat werklik besig is om in die Duitse konsentrasiekampe te gebeur, het hy die Nazis betaal om Jode te kry om in sy fabrieke te werk, so het hy hulle van die dodekampe gered. Hy het in die oorlog ingekom as 'n skatryk industrialis, en toe die oorlog verby was was hy so te sê bankrot. In die laaste toneel in die film toe Duitsland reeds oorgegee het en die Jode vry was om te gaan, het Schindler het die mense bymekaar gekry om hulle te groet. Sy getroue Joodse boekhouer gee vir hom 'n goue rig met 'n inskripsie uit die Talmud daarop wat sê: “Hy wat een mens red, red die wêreld.” Hy omhels sy getroue Joodse boekhouer en dan fluister hy in sy oor: “I could have got more”. En dan gebeur daar 'n interessante ding in sy hart; hy begin sy besittings meet in hulle waarde van menselewens. - Hy kyk na sy kar en sê: “Why did i save this? I could have bought 10 people with this.” Hy kyk na die goue lapelwapen wat hy gedra het en sê “This could have saved another one. Why didnt I do more? “

Schindlers

Vanmore se les uit die Here se bergrede kom nogal 'n bietjie skerp na ons toe, in 'n negatiewe bevel! Moenie! Tot hier toe het die Here al die besondere tegnieke gebruik gemaak om ons saam te neem op sy pad. Hy het byvoorbeeld nie vir ons ronduit in Hoofstuk 5 gesê: “kyk ouens, 'n gelowige is iemand wat weet hoe afhanklik hy van God is, hy is iemand wat treur oor sy sonde, hy is sagmoedig, hy honger en dors na die regte dinge ens nie. - Nee Jesus het dit in 'n mooi oratoriese tegniek in saligsprekinge verpak. Verder het die Here Jesus nie na ons toe gekom met klinkklare bevele nie. Hy het byvoorbeeld nie in verse 21 gesê Jy mag niemand haat nie. Nee, Hy het dit behendig in 'n kontras gestel tussen wat die algemene opvatting van die tyd is en wat Sy eie wil is. Dit het Hy ook gedoen met egskeiding en egbreuk en die aflê van 'n eed ensovoorts. Maar kyk nou net wat doen Jesus hier in Mat 6:19..... “Moenie! ...”

Hy klim kaalvuis in en gee 'n klinkklare gebod! - Moenie! Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Dit lyk net vir my dat Jesus hier by 'n beginsel gekom het wat Hy nie behendig oratories wil benader nie. Hy is ernstig en Hy is bang dat die impak van wat Hy gaan sê verlore sal gaan as Hy dit nie hard en duidelik en reguit stel nie.

Die eerste vraag wat ons vandag vir Jesus sou wou vra is: “is dit dan verkeerd om besittings te versamel?” Is dit dan verkeerd om eiendom te hê? Is dit verkeerd om wys en versigtig met jou besittings om te gaan sodat die hoeveelheid wat jy het jou sal hou tot jou ou dag? Ek dink nie die probleem lê by die versameling van besittings nie. - Is die Bybel dan nie vol daarvan dat God by verskeie plekke verskeie mense met besondere rykdom seën nie. Vir Abraham het die Here skatryk gemaak. Daar staan in Gen 24:35 dat die Here vir hom kleinvee en grootvee gegee, silwer en goud, slawe en slavinne, kamele en donkies. In Gen 26:12-14 word daar vertel hoedat die Here vir Isak op materiële gebied geseën het. Daar staan dat sy saad honderdvoudig vrug gedra het, die Here Het hom voorspoedig gemaak en hy het 'n ryk man geword. So kan ek jou vertel van Jakob (Gen 26:6-7) Dawid (1Kron 29:28) Jehosafat (2Kronieke 17:5) En in die nuwe Testament 'n ryk man met die naam Josef van Arimatea, wat 'n dissipel van Jesus was (Mat27:57).

Is dit dan verkeerd om te spaar? Is dit verkeerd vir jou voorsiening te maak vir jou oudag? Spreuke 21:20 In die woning van 'n wyse mens is daar altyd kosbare besittings en olie; 'n dwase mens bring sy goed deur. Spreuke 13:22 sê selfs dat dit 'n goeie mense is wat 'n erfenis nalaat vir sy kinders. 1 Timoteus 6:17 sê dat God alles ryklik aan ons gee om te geniet. So ek dink nie dat dit verkeerd is om matige voorsiening te maak, versigtig met jou besittings om te gaan en te sorg dat daar genoeg is nie. - John Piper sê 'n mens moet genoeg spaar sodat dit nie vir hom nodig is om te leen nie.

Dit gaan egter hier oor drie beginsels: die een van die skat, en die plek waar jy dit bewaar, en die rede waarom jy opgaar. Jesus sê in die eerste plek: “moenie vir julle skatte versamel nie” Die Griekse woord Thesauros word hier gebruik. Die werkwoord is thesaurizo. En dit dra die konnotasie van dinge op mekaar stapel, om dinge te stockpile om te versamel ter wille van die versameling. - Jesus sê dat die versameling van meer en meer net ter wille van die besit daarvan, meer as wat jy kan gebruik, nie is wat God wil hê nie. Om iets te versamel ter wille van die versameling daarvan. Dit sou kon definieer as 'n skat in Jesus se oë. Die ander gedagte wat ingesluit is by die skat, is die ding wat jy naby aan jou hart hou. 'n “skat soos die Here dit hier noem, het 'n emosionele konnotasie. - Twee mense kan elkeen 'n motor besit. Vir die een is dit 'n vervoermiddel van punt A na punt B. Vir die ander een is dit 'n skat. - Vir hom dit is 'n verlenging van sy menswees, dit is 'n getuienis van sy bestaan dit is vir hom meer waardevol as wat God bedoel het dat besittings moet wees. Dit het vir hom 'n kruk in sy lewe geword, iets wat sy persoonlikheid regop hou. - 'n Maklike toets sou wees as iemand sy pad kruis wat daardie voertuig regtig nodig het, - ek praat nie van iemand wat sommer maar net 'n pret rit wil onderneem nie, iemand het daardie voertuig regtig nodig. Sal hy bereid wees om dit vir daardie persoon te leen? As jy nie bereid is om die besittings wat God vir jou gegee het met ander te deel nie, het jy nie meer besittings nie, maar het dit vir jou skatte geword.

Die tweede probleem is die plek waar daardie persoon dit versamel. As ek en jy besig is om skatte op hierdie aarde te versamel ten koste van God se saak, dan is ons besig om die gevaarsone te betree waar Jesus vir ons kom sê; “moenie!” - Ons het verlede week heerlik gesels oor die drie dinge wat God dryf, naamlik die eer van sy Naam, die uitbreiding van sy Koninkryk, en sy wil op aarde. As jy met groot eerlikheid kan sê dat jy jou besittings so bestuur dat God se Naam daardeur geëer word, dan is jy veilig, en omdat jy getrou is met jou besittings sal God tien teen een vir jou meer gee. As jy besig is om besittings te versamel en jy kan met groot vrymoedigheid sê dat God se koninkryk voordeel trek uit jou versameling van besittings, dan doen jy dit op die regte manier, en jy kan nog te wagte wees. En as jy met vrymoedigheid kan sê dat jy een honderd persent die wil van God doen met die versameling van jou besittings dan sal God jou besittings seën.

Die laaste beginsel waarby jy verby moet kom met hierdie verbod van die Here Jesus is die rede waarom jy skatte versamel. - As jy, en jou gesin en jou onmiddellike familie die enigste begunstigdes is van jou versameling van besittings, dan is ek bevrees dat jy besig is om strydig te leef met hierdie verbod van die Here Jesus. Ons moet besef dat God vir ons besittings gee op hierdie aarde om te geniet. Dit het 1Tim 6:17 tog baie duidelik vir ons gesê. Maar God gee ook vir meer as wat ons kan gebruik sodat ons dit in God se Naam kan uitdeel aan hulle wat dit nodig het. God se doel met die rykdom wat Hy aan ons gee is dat ons nie so behep moet raak met wat ons het, dat ons nie bereid is om dit met mense rondom ons te deel nie. God wil juis hê dat hulle, die mense wat sien dat ons gehoorsaam is met ons besittings, God kan verheerlik as hulle ons bekering ook in ons beursies raaksien. God gee vir ons besittings sodat ons Hom daardeur kan dien sodat Sy heilige Naam verheerlik kan word.

Wat beteken dit om skatte op aarde te versamel? - Wel dit is redelik eenvoudig. - Jy versamel vir jou skatte op aarde as die opbrengs van jou skatte net mooi geen ewigheidswaarde het nie. As jou manier van geld spandeer net mooi niks voortbring wat ewig sal hou nie, is jy besig om skatte op aarde te versamel. As jou geldspandering net gefokus is op die tasbare – die dinge wat jy kan bereken en meet en weeg en bêre dan is jy besig om skatte op aarde te versamel. As jou geld net gaan om nuwer, blinker, mooier meer luuks as die vorige model te bekom, dan is jy besig met skatte op aarde. Die impak het vir Oscar Schindler soos 'n vuishou getref toe hy eiendom begin sien in terme van ewigheidsperspektief en hy besef hoeveel meer hy met sy skatte kon doen.

Daarteenoor het ons 'n paar voorbeelde van skatte wat in die Hemel weggebere word. Jesus, het byvoorbeeld gekom met 'n duidelike ewigheidsperspektief. Hy sê in Lukas 4:18-19 “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig.” Hoor jy hoe klink skatte in die hemel?

1 Timoteus 6:17 gee vir ons 'n goeie aanduiding van skatte met ewigheidswaarde: “Dié wat in hierdie wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. :18 Spoor hulle aan om goed te doen, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en Medededeelsaam. :19 So vergader hulle vir hulle 'n skat as 'n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry.

En dan so met die tong in die kies, sê die Here Jesus; terloops, daar is nog 'n probleem met jou skatte wat jy so doelgerig op die aarde versamel; dit is die plek waar mot en roes jou skatte se waarde vernietig en waar diewe inbreek om dit te steel.

As jy skatte op die aarde versamel, sal jy in der ewigheid nooit vrede hê nie, want jy sal altyd bekommerd wees oor die mot en ros wat besig is om jou skatte op te vreet en die diewe wat dit wegdra. Spr 15:16 Liewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis daaroor.

Salomo wys nogal vir ons 'n ander probleem met die opgaar van skatte op hierdie aarde; en dit is dat daardie skatte nooit werklik bevredig nie. Luister wat sê hy in Prediker 5:9 Die mens vir wie geld alles is, het nooit genoeg geld nie; die mens vir wie rykdom alles is, kry nooit genoeg in nie. Ook hier kom dit tot niks. Hy sê dat selfs die versameling van skatte op hierdie aarde jou nie kan bevredig nie. - Kom nou, ons was mos al almal daar! - Jy sê vir jouself; as ek maar net hierdie of daardie model kar kan ry, dan sal dit regtig vir my bevrediging bring, dit sal wonderlik wees! En net sodra jy daardie ding in die hande gekry het wat jy so seker was vir jou bevrediging sou bring, dan verdwyn jou bevrediging soos mis voor die son! - Dan soek jy na iets nuuts om bevrediging te bring.

Van skatte wat in die hemel bewaar word sê die Here egter: Mat 10:42 Wie aan een van hierdie geringstes net 'n beker koue water gee omdat hy my dissipel is, sál sy beloning kry. Dit verseker Ek julle.” Elke uur wat jy spandeer om siekes te besoek of die wat in nood is by te staan, of om die hartseer mense te troos, is tyd en geld wat jy in jou hemelse bankrekening belê het. Petrus praat nogal van `n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word. (1Petrus 1:4, 5) Hoor jy hoe klink die dividende van jou skat in die hemel? - Onverganklik, onverwelklik, onbesmet en dit word vir jou op 'n plek bewaar waar daar nie wisselkoerse is nie, waar daar nie inflasie is nie waar daar nie oorloë is nie. Jy belê hierdie skatte in die hemel deur die manier wat ons vandag, hier en nou op die aarde met jou besittings lewe. Nou is die enigste tyd wat jy 'n beleggin kan kan maak wat vir ons ewigheidswaarde het. Jim Elliot het gesê “He is no fool who gives what he cannot keep to gain what he cannot lose”

Daar is egter nog 'n faset van skatte in die hemel. In verse 21 -24 wys die Here Jesus ons op 'n groot gevaar: Mat 6:21 Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. Met ander woorde; jou skat oefen 'n mag uit oor jou. Dit trek jou soos 'n magneet, dit beïnvloed die manier wat ons lewe.

Het jy die ketting van effek gesien wat die Here Jesus hier skets: Eers is daar jou skat – En die skat oefen invloed op ons uit - Dan gryp die skat jou affeksies, jou hart, dit beïnvloed jou optrede naamlik of jy die blink goed van die wêreld liefhet en of jy fokus op mense as inwoners of potensiele inwoners van God se koninkryk. Wat sleg is, is dat as jou hart, jou affeksie eers deur 'n ding aangegryp is jy selfs bereid sal wees om vir daardie ding te baklei! En so, stelselmatig is jou skat, besig om jou lewe te verander. - As jou skat in die hemel is, rig jou skat jou hart al hoe meer op die hemel op die dinge van God, maar as jou skat op aarde is, word jou skat een van die baie struikelblokke in jou geestelike lewe. Is dit nie waarom jou wandel met die Here vir jou so moeilik is nie? - Hou verstand sê vir jou dat jy sus of so moet doen om 'n goeie gelowige te wees, maar jy moet veg teen die affeksie van jou hart. Jy is in 'n tweestryd. Jou verstand sê vir jou so, en jy weet dat dit reg is, maar jou hart sê 'n ander ding want die skat van jou hart is nie in die hemel nie.

Dit is egter nog nie die volle storie nie. - Dit is nie net jou hart, jou affeksies wat betrokke is by jou skat nie, maar ook jou oog. Die Here Jesus sê: “As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie! (Mat 6:22; 23)

Jesus sê hier dat daar net twee maniere is om na die ding te kyk; met 'n verdeelde hart of met 'n gefokuste oog. Die skrywer van die Hebreerbrief stel dit as volg: Heb 12:1 Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, :2 die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.

'n Gefokuste oog maak dat ons alles helder en duidelik sien, ons sien elke ding in perspektief. Jy kan toegegooi word met besittings en rykdom, maar jy word nie daardeur oorrompel nie want jou oog is gefokus. Jou werk, jou gesin, jou ontspanning, jou betrokkenheid by die gemeente is alles rustig in hulle plek sonder dat hulle mekaar bedreig en verdruk. Want jou oog is gefokus.

Die teendeel is egter dat iemand deur die lewe gaan met 'n verdeelde hart. Omdat geld en besittings, die blink skatte van die wêreld vir hom so belangrik geword het weet sy oog nie mooi waarop hy moet fokus nie. Die ou se lewe het nie een duidelik gedefinieerde fokus soos wat Heb 12:1 dit spesifiseer nie, daar is soveel dinge wat hy probeer balanseer in sy lewe en op die ou einde bereik hy nie een van daardie dinge nie. Op die ou einde bevredig sy skatte hom nie – want skatte kan nie bevredig nie. Op die ou einde lê sy gesin in skerwe, sy huwelik is stukkend en sy lewe was waardeloos omdat daar geen fokus was nie. “As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!”

Mat 6:24 Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie. Jesus sê dat as jy gevange geneem is deur jou aardse skatte, jy die slaaf daarvan word. Jy dink dat jy ewe vroom besig is om die Here te dien, maar Mammon vertroebel die verhouding so dat daar geen werklike, lewende verhouding bestaan nie. Die bewys van ons blindheid en verslaafdheid is die feit dat ons dink dat ons God Sondag kan dien, maar Maandag tot Saterdag leef ons volgens 'n totale ander stel waardes. Jesus sê dat ons hier met absolutes te doen het, dit is of die een of die ander. As jou materiële dinge jou lewe beheer is jy godloos al praat ons die hele tyd oor Hom. Jesus het vir die gemeente in Laodisea gesê: Opn 3:17 Julle sê: “Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie,” en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal.

Ray Stedman Stel 'n drieledige toets voor om te bepaal waar jy jou bevind. Hy toets jou hart, jou wil en jou verstand: In die eerste plek. Hoe belangrik is materiële besittings vir jou? - Hoe beïnvloed dit jou lewe as jy iets nie kan kry nie? Sien jy jouself werklik slegs as 'n pelgrim op sy reis deur 'n vreemde land? Tweedens: Vind jy dit nodig om dit wat jy het of wat jy wil hê te regverdig? (Voel jy skuldig?) Koop jy impulsief en vind jy dit dan later nodig om te verduidelik waarom jy gekoop het? Jy wil goed hê en soek dan na 'n rede waarom jy dit wil hê? In die derde plek. Sal jy dieselfde ywer aan die dag lê om 'n geestelike geleentheid na te jaag as wat jy sou doen om 'n materiële geleentheid te benut? Lê jy dieselfde ywer aan die dag om God se naam te eer, sy koninkryk uit te brei en sy wil te doen as wat doen om aan jou besittings te spandeer?

Stuur e-pos aan ds Piet Hattingh  As jy met Ds Hattingh oor die boodskap wil gesels.

Tuisblad / Ons mense / Skakel in / Preke / Nuusbrief / Jaarprogram / Leesprogram / Waarvoor ons staan / Geskiedenis / Kerkgebou / Fotogallery / Kranspoort