Neem daardie geloofstap!

Numeri 27:1-11

Hier het ons `n man met die uitsonderlike naam; Selofgad.- In my oë is `n ou met vyf dogters reeds `n held, want ek het geen idee hoe `n ou vyf dogters groot kry nie. Maar Selofgad is nie die geloofsheld in hierdie verhaal nie, sy dogters is. Magla, Noa, Gogla, Milka en Tirsa. Gemiddelde vroue, wat nog een maal in die Bybel genoem word, maar geloofshelde by wie ons baie gaan leer vandag.

Die verhaal van die vyf dames speel af aan die einde van die Israeliete se woestyn-tydperk. Op hierdie stadium was Moses reeds ’n ou man en naby aan sy dood. Josua het stelselmatig na vore getree om die leierskap van die volk oor te neem, en hulle het begin om die land tussen die stamme en die families in die stamme te verdeel.

God werk deur gewone mense wat soos geloofshelde optree. Hy soek nie na helde sodat hy deur hulle kan optree nie.

Hierdie verdeling van die grond het in die hoogste vergadering van die Israeliete plaasgevind. By die deur van die tabernakel het Moses gesit in die rol van die leier, of die koning van die land. Rondom hom het die leiers van die twaalf stamme gesit, wat in `n koninkryk sekerlik die prinse sou gewees het. Die manne van die volk het die vergadering bygewoon om te hoor wat op die groot volksvergadering bespreek word. Num 26:51 sê vir ons dat daar onlangs `n sensus gehou is dus het daar rondom die tent van ontmoeting 601,730 manne gesit.

En dan gebeur daar die mees ongehoorde ding waaraan jy kan dink! Daar staan `n vrou op in hierdie vergadering van die volk. - Nie net een vrou nie maar vyf! - Wat nog erger is, hulle begin praat! Hulle maak aanspraak op `n stuk grond van hulle eie. - Hulle pleidooi is dat hulle pa aan natuurlike oorsake in die woestyn gesterf het en hulle vaderloos gelaat het. Hulle het nie `n broer nie, anders sou die broer hom oor hulle ontferm. Nie een van hulle was getroud nie en dus het hulle geen regspersoonlikheid daar voor die vergadering van die volk nie - hulle was “nobodys”. Maar tog staan hierdie vyf vroue op in `n vergadering waar hulle nie hoort nie en maak aanspraak op iets wat hulle nie toekom nie!

Waarom is die verhaal in die Bybel opgeteken? Het ons uiteindelik op die sleutelvers vir die vryheidsbeweging vir vroue uitgekom? Nee, hierdie verhaal soos die verhale van die ander helde vertel vir ons iets van geloof. - Dit verduidelik wat geloof is, en dit roep vir my en vir jou op tot dieselfde geloof!

Wat is geloof? Is dit soos die ouens van die “word of faith” beweging sê: Jy moet net claim en dit sal gebeur? Nee! Dit is op sy beste wensdenkery, dalk `n poging tot manipulasie. Wat as God besluit het dat Hy jou streep hier in die sand trek? Dan is jou “geloof” mos strydig met wat God reeds besluit het.

Nee, geloof is om onwrikbaar aan die beloftes van God vas te hou al lyk dit onmoontlik in jou omstandighede. Geloof is om op God alleen te vertrou, dat Hy sy beloftes aan jou sal nakom. Dit is om God aan sy beloftes te herinner en nooit te twyfel dat God sy beloftes tot stand sal doen nie. Jes 62:6 sê Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner, julle moenie stilbly nie. Want dit is wat geloof is; om God aan sy beloftes te bly herinner al lyk dit nie of dit waar kan word nie.

Uit die verhaal van hierdie vyf uitsonderlike vroue kan ons `n paar komponente van geloof identifiseer:

Geloof is nie rebellie nie.

Die drie dogters kom na Moses toe en sê: Num 27:3 "Ons pa is in die woestyn dood. Hy was nie een van Korag se bende wat teen die Here saamgesweer het nie. Hy het deur sy eie sondes gesterf en geen seuns gehad nie. Gaan lees die verhaal van Korag en sy bende in Num 16. - daar het twee honderd en vyftig manne rondom hom versamel wat hom wou volg en nie vir Moses nie. Hy het gesê: “waarom moet Moses ons leier wees, waarom praat Moses met die Here namens ons?” - En die Here straf vir Korag en sy bende rebelle deurdat die grond oopskeur en hulle insluk. Die vyf vroue sien dat daar iets is wat reggestel moet word, maar hulle stel dit nie reg met opstand en rebellie nie - hulle volg die kanale tot hulle beskikking en vertrou God met die resultate. Die gedagte word bevestig wanneer die dogters later in Num 36 beveel word om met manne uit hul stam te trou sodat die grond nou nie deurmekaar raak nie. - ek hulle doen dit sonder om te rebelleer.

- In ons tyd kry ons te veel mense wat dinge met `n bulldoser kom uitmekaar ruk, en dan sê hulle: “prys die Here kyk wat het Hy gedoen.” - Geloof en rebelsheid moet nooit met mekaar verwar word nie.

Geloof vra vasberadenheid.

Hierdie vroue het geweet van die belofte van grond wat aan hulle vader gemaak is. - Ek wil vir my voorstel dat hulle daar, waar hulle in die hitte en die stof van die wildernis gebly het dikwels uitgesien het na die dag wat hulle op hulle eie stukkie grond kan nesskop om vir hulle `n lewe te maak. Maar toe gebeur daar `n ding wat hierdie hoop van hulle bedreig. Hulle vader sterf en skielik het hulle geen voet om op te staan nie. Dit lyk of hulle kanse daarmee heen is. Hulle sal welsyns-gevalle wees en sal van die aalmoese van ander moet lewe die res van hulle bestaan. En die vroue sê vir mekaar: “maar waarom kan ons dan nie ook `n stuk grond kry nie, waarom kan God se beloftes nie waar word in ons lewens nie?” En vasberade om hulle deel te verkry, staan hulle op in die volksvergadering by die tent van samekoms.

Gelowige, in jou skoot lê God se genadebeloftes aan jou. `n Hele boek vol van hulle. God belowe vir jou krag ten midde van jou persoonlike swakheid. Hy belowe vir jou vaardigheid ten midde van jou beperkings. Hy belowe vir jou vrede ten midde van die warboel waarin ons lewe. Hy belowe dat Hy die pad wat Hy met jou begin loop het end uit sal voer. - Hy belowe om jou te begelei na volwassenheid in jou geloof. Hy belowe jou alles wat jy nodig het om te lewe en om Hom te dien. Hy belowe om jou vrugbaar te maak in sy koninkryk. Alles wat jy nodig het om dinamiese kind van God te wees lê voor jou in die beloofde land. Die vraag is net hoe graag wil jy dit hê. Hoe vasberade is jy om dit te kry wat God vir jou belowe. Of is jy maar te dankbaar dat God nie dinamies deur jou werk nie dit gee jou immers meer tyd om Egoli te kyk! - Die vyf vroue skuif hulle vrees en skaamte en selfbewustheid op sy, om aanspraak te maak op die beloftes van God.

Geloof vra waagmoed.

Geloof vra dat jy risiko’s neem. Heb 11:1 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Om oortuig vorentoe te stap en te vertrou dat God sy belofte gestand sal doen ten spyte van die teenkanting wat jou in die gesig staar. Wat was die struikelblokke wat hierdie vyf vroue in die oë gestaar het? - Dit was die gewoontes en tradisies van die Israeliete van die tyd. - Vroue het nie `n regspersoonlikheid nie. Vroue mag nie grond besit nie. Vroumense praat nie by die tent van ontmoeting nie. - En hier staan vyf vroue op en sê: "Hierdie ding is nie reg nie - dit behoort te verander". Dit is asof ons vandag nog kan hoor hoe trek die 601,730 manne hulle asems op! Ek wil my selfs voorstel dat Moses die behoefte moes onderdruk om onmiddellik te sê: “nee, dis nog nooit voorheen so gedoen nie!” - Maar gelukkig is hy `n man van God. En sê :5 dat hy eers die saak in gebed voor die Here gebring het. - En die Here se antwoord: -"Selofgad se dogters het gelyk. ...” Hulle is reg, gee vir hulle wat hulle vra.

Die teks leer vir ons so terloops iets van besluitneming nie waar nie? Moenie sommer maar net ‘n oordeel vel nie. - Moet selfs nie `n oordeel vel op grond van die inligting tot jou beskikking nie. - moenie dat tradisies en gewoontes jou lei wanneer jy besluite neem nie. - neem dit eers na Jou hemelse Vader in Gebed.

Geloof vra van jou om uit jou gemaksone te klim.

Dit vra soms dat jy die status quo bevraagteken. Ons doen `n ding al vir die afgelope honderd jaar so, maar is dit reg dat ons dit so doen. - Is dit 100% in God se wil dat ons dit so doen? Is daar nie `n ander manier wat ons die ding kan doen nie. - is die ander manier van doen nie ook goed nie? Is die nuwe benadering nie dalk beter as dit wat ons reeds vir vyftig jaar doen nie?

En ons lees hoe hierdie vyf dogters `n tradisie in Israel verander. - Hulle verander nie die tradisie in hierdie samekoms van volk nie. - Hulle skep `n splinternuwe tradisie. Num 27:8 "sê vir die Israeliete: As iemand sterf en hy het nie ‘n seun nie, moet julle sy grond aan sy dogter gee. :9 As hy ook nie ‘n dogter het nie, gee sy grond vir sy broers. :10 As hy nie broers het nie, gee dit vir sy ooms aan vaderskant. :11 En as sy pa nie broers gehad het nie, moet julle sy grond vir die naaste bloedverwant uit sy familie gee, dat die dit kan besit." Dit moet vir die Israeliete ‘n bindende voorskrif bly soos die Here vir Moses beveel het.

Jy beinvloed ander deur jou geloof.

Hierdie uitspraak van die Here wys vir my op nog ‘n eienskap van ware geloof, en dit is die feit dat dit aansteeklik is, ander mense word deur geloof beinvloed. - geloof - en die effek daarvan is aansteeklik. Hulle het nie net die omstandighede in Israel vir hulleself verander nie. - Maar hulle begin `n nuwe tradisie. `n Tradisie wat sou geld vir mense jare nadat hulle reeds gesterf het.

Jy mag daar in jou kerkbank sit vandag en ervaar hoedat God `n besondere pad met jou loop. - Die Here roep jou dalk al lankal om meer by die gemeente betrokke te raak. Jy sien al lankal `n leemte in hierdie gemeente en wonder wanneer iemand iets daaraan gaan doen. Jy ervaar al lankal die roeping om meer verantwoordelikheid te neem, om meer in ander mense in te bou om aktief betrokke te raak by die uitbreiding van die evangelie. Maar jy het dit net nog nie gedoen nie. - dan verstaan jy nog nie dat God jou juis in hierdie geloofsgemeenskap geplaas het sodat ander rondom jou beïnvloed kan word deur jou geloof.

Dit is besonder interessant hoe hierdie goed werk. Hulle praat altyd van een of ander seeppoeier met `n “Double action “ werking. Wel, hierdie is `n "double action" werking. Wanneer jy in geloof uitstap en iets begin doen, dan stimuleer jy groei by iemand anders. Wanneer jy besef dat dit wat jy gedoen het groei by iemand anders stimuleer het, dan groei jou geloof. En soos jou geloof groei terwyl jy verbonde is aan `n geloofsgemeenskap, so groei die geloofsgemeenskap. Daar is nie einde aan die dinge wat God kan doen wanneer jy jouself tot sy beskikking stel nie.

Daar was in die agtien honderds `n jong man met die naam van David Brainerd wat in geloof uitgestap het en `n sendeling geword het onder die Indiane in Noord Amerika. Hy het vir jare onder hulle gewerk voordat daar bekerings begin plaasvind het. Maar einde ten laaste het die Indiane by die honderde tot bekering gekom en hulle lewens aan die Here gegee. Brainerd se lewe het `n jong man met die naam van Robert Murray mcCheyne beïnvloed en hy het `n predikant geword. mcCheyne se bediening het `n ander jong man se hart aangeraak, sy naam was Charles Haddon Spurgeon. En Spurgeon het een van die wêreld se bekendste predikers geword.

Die Here se Gees roep jou nou al vir `n geruime tyd om uit jou gemaksone te stap en met een of ander bediening te begin. - Jy hoor dat ons nood het aan kategete en jy sê vir jouself: “dit sal lekker wees” Dan kom die Satan en sê vir jou: jy kan nie dit gaan doen nie, jy is nie goed genoeg nie, jy is nie opgelei nie, jy het nie tyd nie, dit gaan te veel van jou vra en watter ander verskoning ook al. En jy sit terug in jou Gomma Gomma en jou geloof groei nêrens heen nie. - Jy groei self nie geestelik nie, jy stimuleer nie groei by iemand anders nie, jou geloofsgemeenskap groei nie, en God ontvang nie die eer wat Hom toekom nie.

Kom ons gestel nou maar net jy is eendag gehoorsaam aan God se stem. - Jy weet nie of jy dit kan doen nie. Maar bang en bewerig neem jy daardie geloofstap. Jy stap in geloof uit om meer te doen as wat jy dink waartoe jy in staat is. Jy begin `n kleingroepie. Jy raak betrokke by ons uitreike. Jy meld jou aan vir die EEIII - kursus. Jy kom meld jou aan om `n bediening vanuit hierdie gemeente te loods. - Jou lewe beïnvloed een ander persoon se lewe, daardie persoon is gehoorsaam en bring sy gawes na die gemeente, hy beïnvloed een ander persoon en daardie persoon was die kritiese skakel wat ons nodig gehad het om ons te bring by die draaipunt, en die gemeente begin funksioneer - sy ratte begin kraak en klap, en skielik kom hierdie masjinerie in werking. En jy weet: Ek was deel van die beweging wat hierdie gemeente uit sy posisie van ewige rus gehelp het. - Ek het `n verskil gemaak in God se koninkryk!

Stuur e-pos aan ds Piet Hattingh As jy met Ds Hattingh oor die boodskap wil gesels.

Tuisblad / Ons mense / Skakel in / Preke / Nuusbrief / Jaarprogram / Leesprogram / Waarvoor ons staan / Geskiedenis / Kerkgebou / Fotogallery / Kranspoort