Hoe om groot te wees in God se koninkryk

Mat 20:17-18

Jerusalem was aan die einde van Jesus se aardse bediening nie meer `n veilige plek vir Hom nie. Die vorige keer wat Jesus en sy dissipels daar was, het die priesterhoofde en die familiehoofde hom probeer doodmaak. Die dissipels het dit geweet. Toe Hy 'n paar maande vantevore vir Thomas gevra het om saam met hom na Betanië te gaan wat so drie kilometer van Jerusalem was, omdat Lasarus siek was, was Thomas se reaksie: "Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterwe.” (Joh 11:16)

Alhoewel almal geweet het dat Jerusalem nie meer 'n veilige plek vir Jesus was nie roep Hy nou, vir die laaste keer in sy lewe sy dissipels op om saam met Hom die reis van Galilea af tot by Jerusalem aan te pak. Vir die laaste keer sou hulle suidwaarts reis, al langs die See van Galilea tot waar die Jordaanrivier uit hom uitloop. Van daar af sou hulle al met die Jordaanrivier af verder Suid gaan tot naby die dooie see. Daar sou hulle wes draai om oor Jerigo, deur die lae heuwels op die pad van die barmhartige Samaritaan na Jerusalem te reis.

Baie skrywers aanvaar hierdie laaste reis van Jesus na Jerusalem as die amptelike begin van Sy lydingstyd. Jy kan vir jouself voorstel dat hierdie nie `n baie maklike reis selfs vir die seun van God was nie. Ek dink dat Jesus tydens die reis so `n bietjie stil was, afsydig dalk, want sy gedagtes was besig met die laaste week van sy aardse lewe. Hy het al begin dink het oor die lyding wat Hy in Jerusalem sal moet verduur. Miskien het Hy reeds die gebed begin formuleer wat Hy gebid het op die aand voordat Hy gesterwe het: “Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” (Luk 22:42).

En dan is dit asof Jesus dit net nie meer vir homself kon hou nie. - Skielik neem Hy sy die twaalf dissipels opsy en Hy sê vir hulle: 18 Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die owerpriesters en skrifgeleerdes; en hulle sal Hom tot die dood veroordeel 19 en Hom oorlewer aan die heidene om Hom te bespot en te gésel en te kruisig; en op die derde dag sal Hy opstaan.

Met ander woorde stort die Here Jesus sy kommer, sy vrees en angs voor die dissipels uit. Skielik is die ding vir hom te groot om alleen te dra en hy vertel dit vir sy dissipels. Ek dink dat Jesus op die oomblik net `n bietjie bemoediging en versterking van sy dissipels nodig gehad het. Hy was immers 100% mens, met menslike behoeftes.

En wat was die dissipels de reaksie? - doodse stilte- nie `n woord nie. - ons lees nie dat een van die dissipels eers erkenning gee aan wat Jesus sê nie. Ons lees nie dat `n dissipel, Johannes miskien wat sê dat Jy Jesus so liefgehad het, eers sy hand om Jesus se skouer slaan nie. - Ek dink dat geen reaksie van mense soms erger is as `n swak en ongevraagde reaksie. - Wat sê jy vir iemand met jou stilte as Hy nou net sy diepste vrese en bekommernis voor jou uitgestort het?

Dit is eers wanneer ons verder lees dat ons verstaan wat regtig hier aan die gang is. Want in :20 kom Die moeder van twee van Jesus se dissipels, Johannes en Jakobus na Jesus toe om iets te vra. En toe Jesus vir haar vra wat sy wil hê, kom sy met die hele sak patats na vore: “Sê dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk mag sit, een aan u regter— en een aan u linkerhand.”

Kan jy dit glo! Terwyl Jesus loop en worstel met sy diepste vrese en grootste bekommernis, en selfs wanneer Hy dit met sy dissipels deel, is die dissipels rondom Jesus besig met hulle eie agendas. Hulle loop met hulle koppe in die wolke rond. Hulle loop en dink aan die dag wat Jesus uiteindelik die koninkryk gaan vestig waarvan Hy so graag vertel. Hulle loop en dink aan die heerlike soustrein waarop hulle gaan ry wanneer dit gebeur! - Hulle gaan die kabinetsministers en die MEC's en die leiers van die Jeugliga wees in die nuwe bedeling. - hulle gaan die belangrike mense wees. - wonderlik! - En daar tussen hulle loop die Seun van die Mens en worstel met sy vrese en bekommernisse oor sy laaste dae as mens op aarde. En moenie nou vir Johannes en Jakobus wil stenig nie. :24 sê “En toe die tien dit hoor, was hulle verontwaardig oor die twee broers.” - Glo my die dissipels was nie verontwaardig oor die onreg en selfsug van die twee broers nie. - Hulle was verontwaardig omdat húlle ma nie naby was om hierdie versoek aan Jesus te rig nie. - hulle was verontwaardig omdat Johannes en Jakobus se ma noue bande met Jesus gehad het, sy was Sy moeder se suster, met ander woorde Jesus se tannie, en hulle so `n voorsprong op die beste posisie gehad het. - Hulle was verontwaardig omdat hulle nie eerste aan die plan gedink het nie.

Jesus draai egter na die twee manne toe, - dis nou die twee manne wat Jesus self as die “seuns van die donder” gedoop het. Die “seuns van die donder” wat nou hulle ma opsteek om vir hulle goeie poste by Jesus los te slaan. Jesus draai na hulle toe want ma was maar net die nuusdraer, hulle was die manne met die planne. En Jesus sê vir hulle: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek aanstons gaan drink, en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word?”

Wat Jesus vir hulle vra is: “can you walk the walk? Can you talk the talk?” - weet julle enigsins wat julle vra? - en die seuns van die donder antwoord sonder om `n oog te knip: “ons kan”

En dan is dit asof die Here Jesus met deernis en hartseer met hulle praat. Want niemand het beter geweet dat die koninkryk van Hom nie `n koninkryk van mag en invloed was nie. Hierdie was nie `n koninkryk van die soustrein nie maar `n koninkryk van opoffering. `n Koninkryk van pyn en lyding. `n Koninkryk van die kruis en nie `n ryk van die kroon nie. En Jesus sê met hartseer vir hulle: Dis waar, my beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word; maar om te sit aan my regter— en aan my linkerhand berus nie by My om te gee nie, maar is vir hulle vir wie dit deur my Vader berei is.

Jesus het natuurlik geweet dat die twee broers met hulle lewe vir die Evangelie sou betaal. Jakobus sou die eerste van die dissipels wees wat as martelaar sou sterf en Johannes sou die laaste van die apostels wees om te sterf. - alleen, eensaam uitgeban op `n eiland met die naam Patmos nadat Hy die laaste boek van die Bybel geskryf het. - Ja, sê Jesus die beker sal julle drink. Maar waar julle in die koninkryk gaan inpas dit kan ek nie vir julle sê nie.

En dan draai Jesus na die dissipels en sê vir hulle: Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; Jesus sê: Hy weet dat dit die manier van die wêreld is om Bo uit te kom deur beïnvloeding. - Dit is deesdae nie wie jy is en wat jy kan doen wat vir jou bo gaan uitbring nie, dit is wie jy ken! Jesus sê dit gaan nie in hierdie wêreld oor vaardigheid of kundigheid nie maar of jy iemand daar bo ken, wat vir jou `n pos kan skep, en dan van daar af saam met jou kan skep nie.

Jesus sê: “in hierdie wêreld is dit die ouens met die selfdienende ambisie wat bo uitkom. Die ou wat bereid is om harder te baklei om meer op te offer om meer te gee en `n groter prys te betaal, dit is hy wat bo uitkom.

Jesus sê in hierdie wêreld is dit die diktators wat bo uitkom. Die ouens wat die ander ouens vertrap, die ouens wat met politieke speletjies die ander uitoorlê. Die ou wat die hardste kan slaan, wat die langste kan uithou. Die ou wat die meeste houe kan vat en in dubbele maat kan terugbetaal. - dis die ouens wat dit in hierdie wêreld maak. Maar... sê Jesus so moet dit nie onder julle wees nie.

... elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. 27 En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees;

Die Here Jesus sê: waar die wêreld se sukses soos 'n piramide lyk, die belangrikste ou bo-op die piramide van oorwonne teenstanders staan, so is die piramide van die koninkryk reg die teenoorgestelde. In die koninkryk is dit die dienaar, die nederige ou, die een wat homself opoffer ter wille van die ander. Die een op wie se skouers die piramide rus, die een wat die ander dien, dit is Hy wat groot is in die koninkryk van God. RCH Lenski: “Gods great men are not sitting on top of lesser men; but bearing lesser men on their backs”

Jy moet `n dienaar word. Die Griekse woord “diakonos” word hier gebruik. Die Christen wat groot wil wees in God se koninkryk mag nooit die een wees wat manipuleer en domineer en heers nie. Nee as jy werklik groot wil wees in God se koninkryk moet jy jou diensknegklere aantrek en begin dien. Die dienaar is die een wat nederig en self-opofferend sy eie begeertes

op sy skuif ter wille van die groter geheel. Naamlik die koninkryk van God. Die pad na grootheid in God se Koninkryk is om te dien, en nie om gedien te word nie.

Jy moet `n slaaf word. Die Here Jesus gebruik die Griekse woord: “doulos” om aan te dui dat die een wat groot wil wees in God se koninkryk heeltemal bereid moet wees om sy eie ambisie en eie aspirasies totaal te misken ter wille van die koninkryk. `n Slaaf is iemand wat hom so toewy aan die wil van sy Meester dat sy eie wil op die ou einde geen rol meer speel nie.

En dan klink die Here die spyker om: die een wat waarlik groot in die koninkryk van God wil wees moet word soos wat Jesus was. Hy stel Homself as voorbeeld. 28 net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.

Was daar ooit in die geskiedenis, en sal daar ooit in die geskiedenis `n beter voorbeeld wees van onbaatsugtige diens as die voorbeeld wat Jesus Christus gestel het. Fil 2:5 sê: Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: 6 Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie,7 maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, 8 het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

En dan sê Jesus in :28 Die Seun van die Mens het nie net gekom om te dien nie, maar om sy lewe te gee as `n losprys vir baie. Die woord “Losprys” wat die Here Jesus hier gebruik is letterlik die woord wat gebruik is vir die prys wat betaal moes word om `n slaaf uit sy slawerny te bevry. - Geliefdes, ek en jy het vir ons so vasgewoel in die sonde dat die sonde ons baas geword het. Ons kan nie daar uit nie, ons is verslaaf, vasgevang sonder hoop op bevryding. Maar die seun van God het daardie pad tussen Galilea en Jerusalem voltooi. Sy hart was swaar, Hy was terdeë bewus van die prys wat van Hom as persoon gevra sou word, maar Hy was bereid om die pad te loop en dit ter wille van jou en my wat onsself verslaaf het aan hier die aarde.

 

As jy met ds Piet oor die boodskap wil gesels
.
Tuisblad / Ons mense / Skakel in / Preke / Nuusbrief / Jaarprogram / Leesprogram / Waarvoor ons staan / Geskiedenis / Kerkgebou / Fotogallery /Kranspoort