Is God onregverdig?

Mat 20:1-16

Ons almal hou mos van `n lekker storie nie waar nie? As alles gesê en gedoen is is dit gewoonlik die stories wat ons onthou. Ek dink dat dit die rede is waarom die Here Jesus so graag van gelykenisse gebruik gemaak het. - En wat meer is van Jesus se gelykenisse is dat dit so toepaslik is in ons daaglikse lewe. Mat 20 is een van daardie stories en waarmee elkeen van ons kan identifiseer.

Jesus vertel die verhaal van `n boer, die eienaar van `n wingerd, wat werkers nodig gehad het. - Ek is nou nie `n kenner op wingerde nie, maar so ver ek weet is `n wingerd `n ding wat heelwat werkers nodig het. - hulle moet spit, en snoei, en pluk en bemes en natlei en al sulke soorte werk. Maar hoe dit ook al sy het hierdie boer op hierdie dag werkers nodig gehad om in sy wingerd te kom werk. Vroeg die oggend, so net na sonsopkoms is die boer na die markplein toe om werkers te gaan haal want dit was die plek waar die werkers sou wag. Soos dit in ons dag ook maar gaan was die werk skaars en werkloosheid hoog. Die ouens wat nie werk gehad het nie het dus op die markplein bymekaar gekom en daar sou die mense wat werkers nodig gehad het hulle ontmoet het. Die boer en die werkers het `n ooreenkoms met mekaar aangegaan oor die betaling vir die dag se arbeid en so sou die werker dan vir een dag vir die boer gaan werk. Tot hier toe is die storie heel eenvoudig sonder 'n kinkel.

Maar dan vertel die Here Jesus dat die boer later die oggend weer na die markplein toe is. - Hy het seker iets vergeet toe hy vroeër die oggend in die dorp was. Hy was dalk nou op pad bank toe of OTK toe, maar toe hy teen nege uur die oggend weer by die plein verbystap sien hy dat daar nuwe ouens by die plein aangekom het om werk te soek. - Dit is interessant dat die gelykenis nie verduidelik waarom hulle nou eers op die plein sit nie. - Was hulle lui? Het hulle laat geslaap? Bly hulle ver van die dorp af dat dit hulle langer neem om by die plein uit te kom? - Die vraag word nie beantwoord nie - want dis nie belangrik nie. Wat belangrik is is dat die boer onmiddellik met hierdie ouens praat en hulle werf om vir hom te gaan werk. - Maar ek wil hê dat jy sal fokus op die ooreenkoms wat tussen hulle gemaak word vir betaling. Waarvoor werk die ouens en wat belowe die boer om hulle te betaal? - Hy noem nie `n bedrag nie. - Al wat hy sê is dat die ouens vir hom moet kom werk en hy sal hulle betaal wat billik is. - Wie gaan besluit wat reg en billik is? - Gaan hy dit aan die werkers oorlaat dat hulle besluit of sal hy self daaroor besluit? - Natuurlik gaan hy self besluit wat reg en billik is. - En as die werker aan die einde van die dag nie saamstem met die boer nie? - as die werker nie hou van wat die boer as billik beskou nie? “Tough!” Jammer om van jou probleem te hoor! Dis nie die boer se saak as hulle nie tevrede is met die loon wat hy as billik beskou nie! - as jy nie van hierdie ooreenkoms hou nie, bly dan hier op die markplein, moet dan nie vir my kom werk nie! Maar tog staan die werkers op en kom werk vir die boer.

Ek wil jou aandag vestig op die eerste groep werkers en die tweede groep. - Die eerste klomp werkers het `n ooreenkoms met die boer aangegaan, `n wettige kontrak as jy wil; “ons sal een dag vir jou werk en jy sal ons die loon van `n dagwerker betaal. Die tweede groep werkers het nie `n kontrak met die boer nie. - Die enigste ooreenkoms wat hulle gehad het was: “Ons sal vir jou werk, en ons sal aanvaar wat jy ons ook al betaal.

Die kinkel is nog nie uit die storie uit nie. - Die boer is weer twaalf uur dorp toe en drie uur weer, en elke keer het hy weer werkers op die markplein gekry en elke keer het hy dieselfde ooreenkoms met hulle gemaak, “Gaan werk julle ook in my wingerd, en wat billik is, sal ek julle betaal.” (:4) Jy sal my nie glo nie, maar die boer is weer teen vyf uur in dorp toe. Die ou ry sy arme bakkie gaar tussen die dorp en die plaas. En teen vyf uur loop hy so waar as vet nog ouens raak wat op die plein rondsit en niksdoen nie. En weereens verduidelik die storie nie waarom die ouens so laat sit en nie werk nie. Maar die boer maak ook met hulle `n ooreenkoms.

Een uur later. Teen ses uur die middag. - want in daardie dae het die werkdag teen sonsopkoms begin en met sonsondergang eers opgehou. Teen ses uur die middag sê die boer vir sy voorman om die werkers te roep en om hulle te betaal. - Hy begin van agter af, met ander woorde betaal hy die ouens wat laaste begin werk het. Die ouens wat net een uur gewerk het betaal hy eerste. En hulle kan hulle oë nie glo nie, want die voorman betaal die ouens wat net een uur gewerk het `n volle dag se loon. Asof hulle van die oggend tot die aand gewerk het. En so betaal hy al die ouens wat hy later in diens geneem het presies dieselfde loon asof hulle vir `n volle dag gewerk het. En toe kom hy by die ouens wat `n volle dag hard in die son gewerk het, en toe dit hulle beurt is om betaal te word toe betaal hy hulle presies dieselfde – een dag se dagloon.

Wag, stop net eers die storie! Wat sê jou hart vir jou van die verhaal tot dus ver? - hoe voel jy oor die verhaal? - dink jy dis regverdig? - nee moenie wys nie jy gaan net nou dalk skaam kry.

Dis blykbaar nie net jy wat dink dat dit onregverdig is nie, want toe kom die ouens wat die ooreenkoms met die boer aangegaan het en hulle staan daar in `n groepie en mompel. - Net soos 'n klomp werkers dit maar kan doen. - en toe tree die voorprater na vore. - en spreek die groep se misnoeë uit teenoor die boer. Hulle sê dis nie regverdig nie! Hulle sê hulle het `n hele dag lank in die warm son gewerk en op die ou einde kry hulle presies dieselfde as die ouens wat net een uur gewerk het. - Die boer is onregverdig!

Dit bly vir my so mooi van die boer, dat hy nie baklei nie. Hy verhef nie sy stem nie. Om die waarheid te sê bly hy koel en kalm en vriendelik. Hy sê vir die arbeiders: “My vriend, jy het niks om oor opgewonde te raak nie. Ek doen jou mos glad nie in nie. Ek betaal jou presies wat ons ooreengekom het. Wat ek `n ander ouens betaal het net mooi niks met jou uit te waaie nie.”

En dan wil ek jou aandag vestig op een sinnetjie in : 14 : “Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou.” dit voel nogal so `n bietjie onregverdig nie waar nie. 15 Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is?’

En dan eindig die Here Jesus die gelykenis af met die woorde: 16 So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste.

Het jy gesien in watter konteks hierdie verhaal geskrywe staan. - Hierdie is 'n klassieke geval in die Bybel wat vir ons bewys dat jy die konteks in ag moet neem as jy wil verstaan wat gesê word. As jy een bladsy terugblaai in die Evangelie van Mattheus, wat kry jy daar in hoofstuk 19? - Die verhaal van die ryk jong man. Julle onthou mos, die ryk jong man wat na Jesus toe gekom het en gevra het, wat hy moet doen om die Ewige lewe te beërwe. En toe sê Jesus vir Hom: Hy moet alles gaan verkoop en Hom moet volg. Die ryk jong man is hartseer daar weg “want hy het baie besittings gehad” En dis toe dat die Here Jesus na die dissipels toe draai en vir hulle sê: "Dit verseker Ek julle: ‘n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom.... Die dissipels is baie ontsteld oor wat die Here Jesus sê en hulle vra: “ "Wie kan dan gered word? En die Here Jesus antwoord: Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik. En daarop antwoord Petrus: "Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry? Jesus skets in :28 en 29 die voordele wat daar is vir die wat die Here volg en dan sê Hy in :30 Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste. Kyk `n bietjie Hy sê dit weer in :16 van Mat 20: 16 So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste. En so word die verhaal van die arbeiders in die wingerd aan die verhaal van die ryk jong man vasgebind.

Waarom vertel die Here Jesus die gelykenis? - Want Petrus kom na Jesus toe met `n verkeerde gesindheid. - Here ons is seker oraait omdat ons so baie vir u opgeoffer het, ons sal sekerlik darem gered word nie waar nie? En Jesus kom sê vir hom met die gelykenis: - die feit dat jy die ewige lewe as `n geskenk uit God se hand mag ontvang het niks met jou goeie werke te doen nie – dit is blote genade uit God se hand. “Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou.” (:14)

Ek wil julle aandag vestig op die twee soorte mense in die gelykenis: Aan die een kant kry jy die mense wat wetties voor God lewe. Hulle dink God werk volgens ooreenkomste en kontrakte. - Hulle dink dat die ewige lewe die uiteinde is van hulle harde werk en ywer. Hulle dink God het geen ander keuse as om vir hulle die ewige lewe te gee juis omdat hulle so hard gewerk het nie. Sou ek die gelykenis te ver voer as ek sê hulle is ook die mense wat kla, die mense wat verontwaardig is as hulle dink dat God hulle onregverdig behandel. Hulle is die mense wat dink dat hulle die meester kan aanvat om Hom so ver te kry om hulle beter te vergoed vir wat hulle gedoen het.

Hulle is die mense wat dink dat hulle die ewige lewe sal beërwe net omdat hulle kerk toe gekom het en bydraes vir die kerk gegee het, omdat hulle betrokke was by die basaar, pannekoek gebak het en vleis gebraai het. - daarmee dink hulle verdien hulle die ewige lewe.

Maar dan aan die ander kant kry jy die mense wat teen vyf uur die middag nog op die markplein gesit het. Hulle het net een uur lank gewerk. Hulle weet dat hulle eintlik niks het om op staat te maak nie. - die enigste ooreenkoms wat hulle met die Meester gemaak het is dat hulle bereid was om staat te maak op sy billikheid. Toe die voorman hulle na vore roep het hulle nie veel verwag nie want hulle het geweet dat hulle dit nie verdien nie. Maar tog het hulle die grootste genade uit die Meester se hand ontvang.

Verstaan jy wat die gelykenis vandag vir jou wil kom sê? Hierdie gelykenis kom bevestig dat nie een van ons iets uit God se hand verdien nie. Of jy nou jou lewe prysgegee het om vir die Here te gaan werk, of jy nou `n dominee is, of `n ouderling of `n getroue kollektant wat elke maand deur jou wyk gaan, en of jy vandag in hierdie kerkgebou ingesluip het omdat jy so bewus is van jou sondes, niemand verdien iets voor God nie. Maar tog ontferm God hom oor jou, omdat Hy `n genadige en barmhartige God is, omdat Hy... wil. En omdat jy nie geskik is om gered te word nie het hy sy Seun Jesus Christus gestuur om jou sondeskild weg te neem deur in jou plek aan die kruis op Golgota te kom sterf. En omdat God die losprys wat Jesus betaal het aanvaar het, daarom kan jy nou die ewige lewe beërwe. - Jy het die nie verdien nie. Dit kom jou nie toe nie, dit is blote genade uit God se hand. Dit is soos iemand wat aan `n boemelaar `n stuk brood gee. - Die boemelaar het niks gedoen om die brood te verdien nie – al wat hy kan doen is dood eenvoudig om dit te aanvaar.

Efe 2:8 Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. 9 Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.

 

As jy met ds Piet oor die boodskap wil gesels
.
Tuisblad / Ons mense / Skakel in / Preke / Nuusbrief / Jaarprogram / Leesprogram / Waarvoor ons staan / Geskiedenis / Kerkgebou / Fotogallery /Kranspoort