God kyk na wat jy met jou geld doen

Toe ek `n  kind was het daar twee stelle reëls in my ouers se huis gegeld. Een stel reëls vir Sondag en 'n ander stel reëls vir die res van die week. Jy mag nie op `n  Sondag naaldwerk doen nie. - Want het hulle gesê: “jy steek die naald in die Here Jesus se oog ” Ons mag nie op `n Sondag swem nie. Maar ons mag darem bal gespeel het. Ek het as kind selfs Sondag-klere gehad – dit was beter klere as wat ek die ander dae gedra het. Op `n Sondag mag ons poeding of roomys gekry het – maar as ons daarvoor gevra het in die week dat het my pa net gesê: “dis nie Sondag nie”. Ons mag nie op `n Sondag geskiet het nie- of dit nou skyfskiet of jag was – nie op `n  Sondag nie.

 

Of die reëls wat ons as kind gevolg het nou reg of verkeerd was wil ek nie vandag bespreek nie – maar dit kon ons laat dink het dat ons in twee wêrelde lewe – 'n geestelike een en `n  wêreldse een. - Twee lewens; een en wat ons op `n Sondag lewe en een wat ons die res van die week lewe. 'n Geestelike lewe en 'n wêreldse lewe.  'n Heilige lewe en 'n alledaagse lewe. En so is dit baie moontlik dat ons ons lewens in twee kampe deel waar ons sê hier is die een deel van my lewe, dis nou dinge soos my sport, my vriende, my werk en my geld aan die een kant, en aan die ander kant my verhouding met God en dinge soos my kerk en my gebedslewe en my stiltetyd en my amp as diaken of ouderling. Kom ons kyk of dit waar is. (En ons kyk vanmore net na die onderwerp van geld)

 

Het jy geweet dat daar in 2,350 verse in die Bybel melding gemaak word van geld en van besittings.? - Het jy geweet dat dit twee maal soveel is as wat aan geloof en aan gebed gespandeer word? Daar word meer in die Bybel gesê oor jou geld en hoe om dit te spandeer as wat daar gesê  word oor die hemel en die hel.

 

'n Verband tussen Geld en verlossing

 

In Lukas 19 word die verhaal vertel van Saggeus die tollenaar. - Julle onthou mos, die ou wat te kort was om Jesus te sien, en wat toe in die wildevyeboom gaan klim het. Toe Jesus by die wildevyeboom kom gaan hy staan en hy kyk op na Saggeus en sê  vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” En dan staan daar dat Saggeus hom “... met blydskap ontvang het”  - Dan maak die ou lot rondom Jesus beswaar. Hulle sê:  “Hy gaan by ‘n sondige man tuis!” Ek neem aan dat hierdie beswaar by arme ou Saggeus se ore uitgekom het, want hy neem onmiddelik kennis daarvan, en sê: “Here, ek gaan die helfte van my goed vir die armes gee, en waar ek iets van iemand afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.”  En Jesus se reaksie: "Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom; ook hierdie man is ‘n kind van Abraham. Die Here Jesus sê dis juis vir sulke mense wat ek gekom het.  

 

Het Jesus gereageer op Saggeus se ywer om hom te sien, ja, maar dit was nie deurslaggewend nie. Het Jesus iets gesê oor die Blydskap waarmee Saggeus reageer? Nee. - Maar die oomblik toe Saggeus sê: “Here ek wil reg maak, wat ek gesteel het wil ek vierdubbel teruggee, en bo en behalwe die teruggee van wat ek gesteel het, gaan ek die oorvloed wat ek besit met mense deel wat minder het as ek. - ek gaan dit vir die armes gee.   - Toe reageer die Here Jesus op Saggeus se geloof. -

 

Geloof is iets wat `n mens uitleef. Geloof is iets wat `n  mens doen. Geloof is iets wat in die alledaagse moet posvat. Jou geloof moet sigbaar word in die manier wat jy rugby speel, wat jy gras sny, wat jy met jou vrou omgaan, hoe jy teenoor jou kinders optree en hoe jy met jou geld werk, anders is dit nie ware geloof nie.

 

Die teendeel gebeur ook: in Mat 19:16-30 word die verhaal vertel van 'n jong man wat na die Here toe kom  met 'n wonderlike vraag: “Wat moet ek doen om die ewige lewe te kry?” - Dis tog 'n wonderlike behoefte wat die ou het nie waar nie.  En toe die Here Jesus vir hom sê dat hy die gebooie moet onder hou, toe sê  hy dat hy dit alles alreeds doen. (kom ons neem nie die jong man se woord in twyfel nie) - Met ander woorde hierdie ou was nie 'n hier-jy nie. - Hy was 'n goeie ou. - En dan zoom die Here in op die werklike saak: hy sê  vir hom: gaan verkoop jou besittings en gee die geld vir die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My. Jesus wil vir hierdie ou iets leer van geloof, en dan fokus hy op die ou se geld en nie op die manier wat hy die gebooie onderhou nie. - Die manier wat hierdie jong man met geld en besittings werk sê baie meer van sy geloof as wat sy onderhouding van die gebooie daarvan sê.

 

Het jy opgemerk dat die Here Jesus nie vir die ryk jong man sê dat hy 'n tiende van sy inkomste moet gee nie. - Jesus sê ook nie vir hom dat die plaaslike gemeente `n saal wil bou en dat hy dit moet finansier nie. - Hy sê ook nie vir hom dat hy 'n fonds moet stig om armes mee te help nie. - want al die dinge sou die jong man graag wou doen as dit hom in die hemel sou kry. Maar Jesus  kyk diep in die jong man se siel in en sien dat sy geld en besittings sy God is en dus tussen Hom en God staan en daarom sê Jesus vir hom: “gaan verkoop jou besittings ...” gaan raak ontslae van die dinge wat tussen jou en my staan en kom volg my dan.

 

As God nie God is oor alles in jou lewe nie, ja selfs van jou geldsake nie, dan is hy nie God in jou lewe nie. “If He is not God over all he is not God at all”

 

Jesus meet die opregtheid van Saggeus om na hom toe te kom in sy bereidwilligheid om sy foute reg te maak en aan sy bereidwilligheid om sy rykdom te deel, en Jesus meet die ryk jong man se oppervlakkige oorgawe aan sy onwilligheid om van hierdie een belangrike afgod in sy lewe ontslae te raak.

 

Daar is nie so iets soos `n  dubbele lewe nie. Daar is nie so iets soos Sondag-reëls en reëls vir die week nie.  Daar bestaan nie goed op hierdie aarde wat niks met God te doen het nie. - God is God oor elke enkele faset van jou lewe. Jou houding teenoor die wêreld en al sy dinge in besonder teenoor geld is `n  maatstaf van wat werklik in jou geestelike lewe aan die gang is. - jy kan die twee nie van mekaar los maak nie.

 

Jy dink ek het hier twee geïsoleerde gevalle uit die Bybel gehaal en nou bou ek `n ganse teorie daar rondom? Julle onthou mos nog vir Johannes die doper. - Die ou wat kameelvelle gedra het en sprinkane geëet het. - 'n rowwe ou.  - Wel sy boodskap het hierdie growwigheid van hom weerspieël. Luister hoe preek hy in Lukas 3  7  Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: "Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug? 8 Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek. 9  Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.

 

Rowwe karakter met 'n onsensitiewe boodskap. Maar tog het die boodskap van Johannes die mense aan die hart gegryp, want hulle vra vir hom: "Wat moet ons dan doen?”  En luister wat antwoord hy: “Wie twee kledingstukke het, moet dit deel met iemand wat nie het nie, en wie kos het, moet dieselfde doen.  Vir die tollenaars sê  Johannes "Moenie meer invorder as wat vir julle vasgestel is nie.  Vir die Soldate sê  hy: "Moet van niemand deur geweld of vals aanklag geld afpers nie, maar wees tevrede met julle betaling.  

 

Johannes kom sê vir die mense; bekeer julle anders gaan julle hel toe! - en toe die mense vra wat moet hulle dan doen, dan antwoord hy uitgebrei in terme van geld en besittings. - En nee, hy praat nie net met die ryk mense en sê  vir hulle gee julle besittings nie. My maak moeite om met elke mens in elke spektrum van die samelewing te praat. Met die ryk mense, met die gemiddelde mense en met die salaristrekkers.  Vir die ouens wat aan die bo-punt van die leer staan. - Die ouens wat meer het as wat hulle kan opgebruik.  – vir hulle sê  Johannes, deel uit die oorvloed van dit wat jy ontvang het met ander mense wat minder bevoorreg is as jy. Vir almal van ons sê hy: “wees eerlik en opreg in die manier wat jy met jou besittings omgaan. En vir die ouens wat aan die onderkant van die leer staan – die ouens wat dink dat hulle min het om van te lewe. Vir hulle gee Johannes 'n ongelooflik-belangrike opdrag: “Wees tevrede met wat jy het.

 

Dink jy dat dit terloops in die Bybel opgeteken is? Nee. Die hele skrif is vir ons gegee om ons die mense te maak wat God wil hê dat ons moet word. God is gesteld op die manier wat jy met jou geld werk. Jy kan jou geloofslewe en die manier wat jy met jou geld werk nie uit mekaar haal nie. Die manier wat jy met geld werk sê  iets van jou geloofslewe!

 

Kom ons speel ter afsluiting 'n speletjie. - Jy is `n  finansiële raadgewer en jy moet raad gee in twee gevalle. Die eerste geval is die van `n weduwee. - Sy het geen regspersoonlikheid nie. Sy besit niks nie. Sy het geen beleggings wat vir haar voorsiening maak in haar ou dag nie. Om die waarheid te sê  is haar koskaste leeg, sy het ook nie meer iets om te eet nie. Sy het egter `n  paar rand, kom ons sê  R100.00 en sy sê  vir jou sy voel sy moet die R100.00 in die kollektebordjie gooi. - Wat sal jou advies aan haar wees? - Jy sal natuurlik vir haar sê dat sy dit moet heroorweeg nie waar nie! Jy sal vir haar sê dat dit onwys sal wees, en dat die Here vir `n  mens gesonde verstand gee en dat hy van ons verwag om dit te gebruik, nie waar nie? - Jy sal vir haar sê dat sy eers net moet seker maak dat sy genoeg oor het om van te lewe. Nie waar nie? Jy sal vir haar sê dat as jy so sterk oor die saak voel sy dan net 'n tiende moet gee van wat sy het.

 

Jy het 'n volgende afspraak. Dit `n boer in sy laat-middeljare. Hardwerkend, suksesvol. Vanweë sy harde werk het die Here hom geseën met 'n wonderlike oes. - Hy gaan goed geld maak uit hierdie oes, genoeg om mee af te tree.  Hy sê vir jou dat hy beplan om vir hom skure te bou, lekker grotes. Hy wil sy oes in die skure sit en dit wegbêre sodat hy genoeg sal hê om vir die res van sy lewe te sorg. Dan gaan hy so `n  bietjie reis, en golf speel en vis vang. - Dink jy dis `n  goeie idee?

 

Is hier enigiemand in hierdie kerkgebou wat vir die boer sou sê nee, jy kan dit nie doen nie, nie goeie idee nie! Nee ons almal sou vir hom gesê  het: dis goed, ek dink dis `n goeie idee! Jy het hard gewerk, jy is naby aan jou aftrede, gaan geniet nou jou harde werk en ontspan!

 

 

Maar wat sou God sê? Mark 12:41-44  -Jesus sê  van ons eerste kliënt dat sy reg opgetree het deur alles wat sy besit in die offerkis te gooi. Die Here Jesus sê  dat dit goed is dat sy  selfs dit wat sy moes gebruik om mee kos en klere te koop in die offerkis gegooi het. Die Here Jesus sê  dat sy 'n voorbeeld is wat ons behoort na te volg.

 

Ons lees Jesus se reaksie op die ryk boer scenario in Lukas 12:16-21. Jesus sê  vir hom: - Jou dwaas. Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan alles wat jy bymekaargemaak het?’  Jesus sê  verder dat daar moeilikheid is vir elkeen wat vir hom skatte vergader en nie ryk is by God nie.  So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie.  

 

Sien jy wat ek sien? - Dat ons logika en ons motivering rondom geld en besittings  heeltemal verskil van God s'n. Ek weet jy wat sien ek nog?  Ons verstaan ook nie hoe God wil hê ons ons geld moet aanwend nie. Ons sal moet leer om anders oor geld en besittings te dink as ons daaroor wil dink soos God daaroor dink.

 

Die manier wat jy met jou geld en jou besittings werk is die ware toets vir jou karakter. - wat jy met jou geld doen sê meer van jou Christenskap as enigiets anders op aarde. Dit is 'n getuigskrif op jou geestelike lewe.

 

Die Bybel sê in Mark 12:41-44  dat... “Jesus het toe regoor die offergawekis gaan sit en kyk hoe die mense geld daar ingooi”. Jesus het naby genoeg gesit om te sien wie dit is wat ingooi, wat hulle ingooi. Daar staan Hy het gekyk kyk hoe die mense geld daar ingooi Waarom dink jy het Hy dit gedoen? - Want dit was vir Hom belangrik om te sien wat mense met hulle geld doen. - Kry jy dit?  Wat jy met jou besittings doen is belangrik vir God!  

 

Stuur e-pos aan ds Piet Hattingh As jy met ds Piet oor die boodskap wil gesels

Tuisblad / Ons mense / Skakel in / Preke / Nuusbrief / Jaarprogram / Leesprogram / Waarvoor ons staan / Geskiedenis / Kerkgebou / Fotogallery / Kranspoort