Geen vergelding

'n Christen het nie regte nie

Matteus 5:38-42

Kyk, as daar nou een ding is wat vir witwarm maak, dan is dit die manier wat ons ou volkie met padreëls omgaan! Ek meen nou maar net, ek kom soos 'n wetsgehoorsame burger op die stopstraat afgery. Uit die hoek van my oog sien ek dat 'n voorstedelike ballistiese missiel is op pad na die selfde stopstraat toe. Ek is nie bekommerd nie, ek was voor hom daar! Ek het genoeg tyd om spoed te verminder, om soos 'n wetsgehoorsame burger by die stopstraat te stop en dan verder te ry. En wat moet ek tot my skok agterkom? Die voorstedelike ballistiese missiel se jockie het my stilhou by die stopstraat as 'n teken van swakheid geïnterpreteer en ry vol spoed daaroor, terwyl hy vir my grynslag! - Dit was my beurt om te ry! Vier blokke verder, dis nou nadat ek my bloeddruk en hartklop weer onder beheer gekry het, stop ek by die verkeerslig. Dis rooi vir my! Die voetgangers stap voor my oor, want dis hulle beurt! Ek sien uit die hoek van my oog hoe die mannetjie vir die voetgangers rooi word. In my boek beteken dit dat die voetgangers nou moet stop! Maar moenie glo nie, vir die paar wetgehoorsame burgers beteken dit dat hulle nou op 'n drafstap moet gaan om voor die karre oor die robot te kom. - Met hulle kan ek nog saamleef. Maar dan is daar 'n paar ouens wat my bloed rêrig laat kook. Dis die ouens wat, nadat die verkeerslig vir my groen geslaan het, nog doodluiters oor die stopstraat drentel. Die lig is groen vir my! Dis nou by beurt om te ry! Hy drentel voor my oor die pad en daag my met sy oë uit om bo-oor hom te ry. Ek het mos my regte nie waar nie!

Dit is deel van die mens se lewensfilosofie. Ek het regte! - Is dit nie nie een van die eerste dinge wat 'n kleuter leer nie? - dis nou mý beurt! - Dis nou mý kans om te speel! Maar weet jy wat? Om krampagtig aan jou regte en voorregte vas te klou is ongelukkig ook een van die klinkklare bewyse dat dit die eie ek is wat nog in beheer van jou lewe is en dat God nie jou lewe deur sy Gees regeer nie.

As jy bereid is om bo-oor die ou by die verkeerslig te ry net omdat dit jou beurt is om te ry. AS jy bereid is om jou lewe en ander mense se lewens en jou motor in gevaar te stel, net om jou reg af te dwing, dan is die ou mens, die vlees in beheer van jou lewe en nie God nie. As jy bereid is om iemand skade aan te doen om jou regte te laat geld, as jy selfs bereid is om die wet te oortree om iemand dubbel en dwars terug te kry vir wat hy jou aangedoen het, moet jy nie daarop aanspraak maak dat God in beheer is van jou lewe nie.

Jakobus 4:1, 2 stel dit duidelik: Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? :2 Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. Met ander woorde, julle kry nie, omdat julle nie julle begeertes aan God onderwerp nie.

Luister net hoe duidelik stel Galasiërs Gal 5:22 en 23 dit: Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. En dan die miljoen-dollar-vraag; teenoor wie moet ek hierdie eienskappe vertoon? En die antwoord is; selfs teenoor jou vyande! Selfs teenoor die ouens wat jou grondwetlike regte kom bedreig. Om onder beheer van God se Gees te lewe, beteken dat ek die eienskappe van God se Gees vertoon teenoor alle mense onder alle omstandighede! As dit nie kenmerkend is van jou optrede wanneer jy te na gekom word nie, is jy besig om jou probleme op 'n vleeslike manier op te los, en nie op God se manier nie! Ongeag van wat jou aangedoen word, moet jou optrede altyd van die teenwoordigheid van God se Gees getuig!

In Jesus se tyd het die wet bestaan wat bekend gestaan het as die lex talionis. Dit is so oud soos die mensdom self. Eks 21:23 As sy (iemand) blywend beseer is, is die straf: 'n lewe vir 'n lewe, :24 'n oog vir 'n oog, 'n tand vir 'n tand, 'n hand vir 'n hand, 'n voet vir 'n voet, :25 'n brandwond vir 'n brandwond, 'n wond vir 'n wond en 'n kneusplek vir 'n kneusplek. Met ander woorde; as jy iemand se tand uitgeslaan het, moet hulle jou tand uitslaan. AS jy iemand per ongeluk gebrand het, moet ons jou brand. AS jy iemand anders beseer het, moet ons jou beseer! Dis hoe die Lex talionis werk!

Ons stem almal saam dat daar straf moet wees vir die misdadiger. Hoe anders sal hy die nagevolge van sy dade verstaan, hoe anders sal hy leer om dit nie weer te doen nie? En die Lex talionis beteken eenvoudig dat die straf vir die oortreder in verhouding moet wees met die misdaad wat begaan is. Hierdie straf van 'n oog vir 'n oog, en 'n tand vir 'n tand was regverdig, want die straf was direk verwant aan die oortreding. Die slagoffer het gevoel dat reg en geregtigheid geskied het, want die persoon wat hom skade aangedoen het is ooreenkomstig gestraf. Dit het ook gemaak dat die oortreder nie oormatig gestraf is nie. Dit was genadig, in die sin dat jy nie 'n ou kon doodmaak vir 'n klein oortreding nie en dit is tot voordeel van almal, so word wet en orde in 'n samelewing gehandhaaf.

Nou wat is Jesus se probleem met hierdie baie regverdige wet? - Die blote feit dat die Fariseërs en wetgeleerdes van Jesus se tyd hierdie eeue-oue wet as 'n lisensie tot vergelding aanvaar het. In Plaas daarvan dat die wet deur die owerheid as 'n instrument van burgerlike geregtigheid aangewend was, het dit 'n wapen van persoonlike wraak geword. Vir die Fariseërs was hierdie wet nie iets wat toegepas moet word om wet en orde te behou nie, vir hulle het dit iets geword wat ten alle koste toegepas moet word. Hulle het letterlik geloop en soek vir iemand wat iemand anders skade aandoen sodat hulle “oog vir oog” kon skreeu en sorg dat die oortreder sy verdiende loon kry! Die wet was die Fariseërs se mandaat vir persoonlike weerwraak!

Stel jou voor jy staan by die ystersmid en hy laat heel per ongeluk sy hamer op jou toon val. Dan sou die Fariseërs daarop aangedring het dat die ystersmid se toon ook deur dieselfde hamer platgeslaan moes word. Stel jou voor jy draai by die braaivleisvuur om en brand iemand per ongeluk met jou warm braaivurk, dan sou die Fariseërs daarop aangedring het dat jy ook met 'n warm vurk gebrand moet word. En Jesus sê dat dit nie is hoe kinders van God se koninkryk mag werk nie.

Hoor jy ook wat die Here Jesus vir my en vir jou wil sê met die uitspraak in die bergrede? Jesus sê dat 'n Christen nie iemand is wat weerwraak soek nie! 'n Christen staan nie op sy reg op vergelding nie. Veral nie as dit ten koste van die eer van God se Naam, ten koste van die integriteit van God se koninkryk en ten koste van jou getuienis gebeur nie!

Jesus gaan voort om sy punt met vier voorbeelde te bevestig:

In die eerste plek, jou reg op waardigheid.

Natuurlik het alle mense die basiese reg om menswaardig behandel te word. Ek dink dit is selfs in ons Grondwet opgeneem. Dit is presies die saak wat die Here Jesus met sy eerste voorbeeld op die tafel plaas. Om iemand in Jesus se tyd met die rugkant van jou hand deur die gesig te slaan was 'n geweldige belediging. Dit was 'n aantasting van jou menswaardigheid. 'n Slaaf in Jesus se tyd sou eerder vra vir lyfstraf as wat hy deur die gesig geslaan is. In die latere eeue na Christus sou jy iemand uitdaag tot 'n tweegeveg deur hom deur die gesig te slaan, en as hy nie gereageer het op jou klap in die gesig nie, sou hy as 'n volslae lafaard uitgekryt word.

Waarom gebruik Jesus dan hierdie voorbeeld? - Hy vra hoe 'n gelowige moet maak as iemand iets doen om sy menswaardigheid aan te tas? Jy het sekerlik die reg om die vloer met iemand te vee as hy jou menswaardigheid aantas? - Jesus se nee! Jesus sê dat 'n ware kind van God se eie ek en eie waardigheid nie vir hom so op die voorgrond mag staan, dat hy bereid moet wees om mense daarvoor skade aan te doen nie. Jesus sê dus, dat as jy 'n ware kind van God is, en iemand val jou menswaardigheid aan, dan mag jy nie wraak neem nie. Om die waarheid te sê behoort jy so iemand in nederigheid en sagmoedigheid te hanteer sonder om na wraak te soek! God vra dat jy hierdie onreg wat jou aangedoen word in God se hande moet laat en dit nie self moet wreek nie. - Jy sien, vir die ware, geesvervulde kind kind van God, gaan dit oor God, oor sy lof en eer en nooit oor jouself of jou regte nie.

Om ware kind van God te wees beteken of dat jy soos Jesus is, of dat jy op pad is om soos Jesus te word. 1Pe 2:21 Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle 'n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg. :22 “Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit 'n leuen gekom nie.” :23 Toe Hy beledig is, het Hy nie terug beledig nie, toe Hy gely het, het Hy nie gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel.

Let asseblief daarop dat dit in Jesus se voorbeelde nie gaan oor misdaad of 'n aanval op jou lewe nie. Jy behoort die reg sy pad te laat loop as daar 'n misdaad teen jou gepleeg is en 'n gelowige het die reg of selfs die opdrag om sy lewe en die lewe van sy gesin ten alle koste te beskerm. Dit gaan hier egter oor vergelding, om iemand terug te kry vir wat hy jou aangedoen het.

Die tweede voorbeeld wat die Here Jesus hier noem is die van 'n aanval op jou sekuriteit. Hierdie voorbeeld van die Here Jesus gaan oor 'n regsgeding, 'n hofsaak. Wat hierdie voorbeeld moeilik maak, is die feit dat jy in die hofsaak aangewys word as die een wat verkeerd gedoen het. Jy het die hofsaak verloor! Nou is jou vyand besig om van jou regstelling te eis vir die skade wat hy gely het. Jy het egter nie meer baie besittings wat die ou kan vat nie, nou begin hy om jou klere te vat! In Jesus se tyd het die mense nie sulke kaste vol klere gehad soos ons vandag nie, hy sou een of twee stelle onderklere gehad het, en dan sou hy 'n swaar kleed gehad het wat hy as 'n bokleed bo oor sy klere gedra het. Dit het egter ook vir hom gedien as 'n kombers in die nag. Omdat jy nie baie besittings het nie, is die ou nou besig om jou onderklere te eis om sy skade te vereffen. Eksodus 22:26-27 sê egter dat jy nie iemand se boklere as pand mag vat nie. Waaronder sal hy dan slaap vanaand as dit koud word?

- En luister wat sê Jesus nou; hy sê dat die ware kind van die Here selfs in hierdie geval bereid moet wees om al sy klere, die onderklere en die noodsaaklike bokleed aan te bied om die ander party se skade te dek. En dit ten spyte van die feit dat jy op die regsbeginsel aanspraak mag maak dat jou bokleed nie gevat mag word nie. - Jesus sê; ly eerder skade! Plaas jouself eerder in 'n moeilike posisie voordat jy op jou regte staan! Verontagsaam selfs die regsbeginsels wat tot jou voordeel is, maar sorg net dat jy niemand skade aandoen nie!

Die Here Jesus sê dat as jy bewus geword dat iemand skade ly as gevolg van iets wat jy gedoen het, jy uit jou pad moet gaan om daardie persoon te vergoed vir sy skade! Bied die persoon meer aan as wat jy hom gekos het, net so lank as wat jy jou verantwoordelikheid teenoor daardie persoon nakom! Psalm 15 vra die vraag: Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef? En onder andere antwoord hy die vraag: Hy wat sy woord hou, selfs tot sy eie skade. Paulus doen dieselfde in 1 Kor 6:1-8 wanneer hy praat van Gelowiges wat in hofsake met mekaar gewikkel is. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie? (1 Kor 6:7)

Die derde voorbeeld wat die Here Jesus noem is die een van vryheid. In Jesus se tyd het die Romeinse ryk oor die hele bekende wêreld gestrek van onder in Egipte, reg rondom die Middellandse see tot in klein Asië en dele van Europa. Dus was die Romeine ook in beheer van Palestina. Die Jode het die okkupasie magte van die Romeine uit die aard van die saak gehaat. Om dit erger te maak het die oorheersers 'n wet gemaak wat gesê het dat enige romeinse soldaat enige Jood op enige tydstip van die dag kon kommandeer om sy goed een myl te dra. Die Jood het nie die reg gehad om daardie versoek te weier nie, anders sou hy aangekla word en dalk erg geslaan word of selfs met sy lewe daarvoor boet. Nou kom Jesus en keer weer die appelkar om. Hy sê; as 'n Romeinse soldaat jou opkommandeer om sy goed een myl ver te dra, bied sommer aan om dit vir hom twee myl te dra. En doen dit sommer met 'n goeie gesindheid! Loop en kuier met hom terwyl jy sy goed twee myl ver dra.

Hoor jy wat sê Jesus hier? - Hy sê dat 'n gelowige nie regte en voorregte het nie! In God se nuwe koninkryk gaan dit nie oor jou regte of voorregte nie, maar oor die eer van God, oor die koninkryk van God, en die uitbreiding daarvan.

Die vierde voorbeeld gaan oor besittings en jou reg om goedere te besit. Die behoefte om goed te besit is so oud soos die mens self. - dit is 'n basiese eienskap van die mens om iets te wil versamel met die doel om dit te besit. Maar vir ons as gelowiges geld daar een basiese reël wat ons nooit buite berekening moet laat nie, en dit is die feit dat ons eintlik niks besit nie. Psalm 24 sê:“Alles behoort aan die Here ...” en hy gee dit aan wie Hy wil in die mate waarin Hy wil, sodat daardie mense dit in sy Naam mag bestuur. - Die slotsom: jy besit niks wat uitsluitlik joune is nie.

Met die beginsel in gedagte kom sê Jesus vir ons: Mat 5:42 Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie. Jesus sê hier letterlik dat as iemand iets nodig het, ons dit vir hom moet gee, of hy nou daarvoor gevra het of nie. - Jesus verwag van sy dissipels om so los van hulle besittings te lewe dat hulle niks hulle eie meer noem nie, maar bereid is om dit met almal rondom hulle moet deel.

Ja ek weet jy gaan vir my vra, of jy dan vir elke dronklap en elke straatkind moet gee wat hy van jou vra? Nee. Dit gaan oor werklike nood en werklike oplossing van die nood. Dit beteken dat wanneer 'n straatkind weer oor jou pad kom om iets te vra, jy nie net 'n R5.00 in sy hand stop om van hom ontslae te raak nie, maar dat jy tyd aan hom spandeer. Dat jy iets van jouself gee, dat jy help om na 'n oplossing te soek om die ou werklik te help en hom nie net te dismiss nie. God vra van jou om jouself te gee, vrywillig, vrygewig, opreg, met liefde! - Dit gaan nie oor jou nie maar oor God oor sy koninkryk, en die uitbreiding daarvan.

Geen regte.

Gelowiges het nie regte nie. Niks wat jy is of wat jy het is joune vir jou om uitsluitlik tot jou eie voordeel te geniet nie! Wat jy is en wat jy het is koninkryksbesit. Daarom moet jy dit tot beskikking van die koning stel. Elke keer as daar aanspraak gemaak word op die goed wat jy jou eie noem, word jy weer aan hierdie feit herinner. Ons uitgangspunt vanmore, en in elkeen van die sake in ons lewe mag nooit wees of dit vir my goed en lekker en voordelig is nie. Jou uitgangspunt behoort telkens te wees: is dit tot eer van die Koning en tot uitbreiding van Sy koninkryk?

 

Stuur e-pos aan ds Piet Hattingh  As jy met Ds Hattingh oor die boodskap wil gesels.

Tuisblad / Ons mense / Skakel in / Preke / Nuusbrief / Jaarprogram / Leesprogram / Waarvoor ons staan / Geskiedenis / Kerkgebou / Fotogallery / Kranspoort