Die uitnemende lewensdoel; ontwikkel 'n dankbare hart.

Lukas 15

Ek kan vir my voorstel dat esus daagliks op dieselfde tyd op die selfde plek in die dorpie moes gesit en leer het. Onthou dat Jesus se lering grotendeels bestaan het uit stories. Dus het die mense het dit geniet om na hom te kom sit en luister. - so stel ek my voor dat die skadu-figure van die dorp skaam-skaam begin naderstaan het. Hulle was ook maar bang dat Jesus hulle sou veroordeel of wegjaag. Maar so het hulle agtergekom dat hulle welkom is by hierdie Nasarener wat stories vertel wat 'n mens diep raak. Hulle het al meer begin kom en so het hulle al meer gerus geraak in Jesus se geselskap totdat soos in vers een staan: "..hulle die gewoonte gehad het om na Jesus te kom luister."

Daar was ook 'n ander groep mense wat vir Jesus dopgehou het, maar hulle motivering was nie so suiwer nie. Dit was die Fariseërs en die Skrifgeleerdes. Hulle het Jesus met 'n kritiese hart dopgehou. Hulle wou sien wat Hy verkeerd doen sodat hulle hom daarvoor kon veroordeel. Die Fariseërs was 'n filosofiese denkrigting en was 'n sekte onder die Jode van Jesus se tyd. Hulle het spesifieke klere gedra om hulle te onderskei van die gewone mense en hulle as die uitverkorenes van God te identifiseer! Hulle was lief om in die openbaar, ten aanskoue van almal deur godsdienstige aksies en handelinge te gaan. Hulle sou met 'n klipharde stem op die straathoeke staan en bid, uitsluitlik dat die mense moet sien hoe godsdienstig hulle werklik was. Hulle sou met groot vertoon hulle tiendes van kruie, kruisement en wynruit en koljander gee. (Mat_23:23 Luk_11:42) Stel jou voor 'n ou kom met groot vertoon met 'n teelepel kruisement daar aan!

Die grootste probleem met die Fariseërs was egter dat hulle eiegeregtig en baie selfvoldaan was. Hulle het geglo dat 'n mens jou verlossing voor God kan verdien deur foutloos te lewe! Behalwe hulle jaloesie op Jesus, was dit waarom hulle so krities was as Jesus met die sondaars gekuier het. Want sien, die sondaars voldoen nie aan God se vereistes nie, en dus gaan hulle hel toe, terwyl die Fariseërs seker was van hulle eindbestemming! Toe die Here Jesus hierdie houding van die Fariseërs en Skrifgeleerdes opmerk, vertel hy drie gelykenisse: die gelykenis van die weduwee wat haar muntstuk verloor het, die gelykenis van die skaap wat uit die trop weggeraak het en dan die gelykenis van die verlore seun.

Met die gelykenisse wil Jesus vir die Fariseërs sê – dat selfs die prostitute en die tollenaars en die sondaars vir God belangrik is. Ek wonder nogal wat aanleiding daartoe gee dat Jesus die derde gelykenis vertel? Was dit die Fariseërs se houding op die eerste twee gelykenisse? Hoe dit ook al sy, Jesus gaan voort en vertel 'n derde gelykenis: die een van 'n vader wat twee seuns gehad het. Die jongste seun het na sy pa toe gekom en gesê; "hey ou Toppie ek is nou moeg om te sit en wag dat jy eendag doodgaan. Gee nou asb vir my die deel van die besittings wat my toekom sodat ek met my lewe kan begin". Jy kan vir jou voorstel dat die vader toe met groot hartseer een derde van sy besittings begin opsy sit het. Dis waarop die jongste seun geregtig was. Die oudste broer was volgens Rabbynse wette geregtig op twee derdes omdat hy die oudste was. Die Jonger broer vat toe al die besittings en verkoop dit sodat hy kontant in sy sak kan hê. Hy vertrek toe so gou as moontlik op sy lewens-avontuur. Hy het sommer gou slegte vriende gemaak, en 'n losbandige lewe geleef. Soos dit maar gaan met ouens wat bandeloos te kere gaan, het dit hom nie lank geneem om al sy rykdom te verkwis nie. Toe `n groot hongersnood die land tref is hy onder deur, en kon hy nie meer vir homself sorg nie. Dit het so erg gegaan dat hy nie eers meer iets gehad het om te eet nie. Hy het begin bedel. Net om van hom ontslae te raak, stuur een van die mense hom weg na sy plaas toe waar hy varke moes oppas in ruil vir die voorreg om van die varke se kos te mag eet. En dit was daar by die varke wat hy tot inkeer gekom het.

By die varke besef die seun dat dit beter is om 'n slaaf in sy pa se huishouding te wees as om 'n vry jong man te wees wat varkkos eet. Dit was toe dat hy besluit om terug te gaan huistoe. Al die pad het hy die storie geoefen wat hy vir sy pa gaan vertel. Hoe jammer hy is vir wat hy gedoen het en dat hy eerder 'n slaaf in sy pa se huis wil wees. toe hy nog ver van die huis was het sy pa hom al raakgesien. Natuurlik omdat sy pa op die uitkyk was vir hom. Om die waarheid te sê het die pa se lewe gaan staan die dag wat die seun uit die huis uit is. Van daardie dag af het die pa nie meer aandag aan die boerdery gegee nie. Hy het dag vir dag die pad dopgehou vir die dag wat daardie seun weer huistoe kom. Die vader hardloop toe sy seun tegemoet, omhels hom, gee hom nie eers kans om sy storie te vertel nie gee hom onmiddellik weer sy status terug (dit sien ons in die ring wat aan hom gegee word) verhoog sy posisie van bedelaar na seun (skoene) en toe reël sy pa 'n groot fees. Maar toe, toe kom die ouer seun daar aan.

Ons storie gaan vandag eerder oor die ouer seun as oor die jonger een. Julle sien die storie se naam behoort nie te wees: die verlore seun nie. Maar; die verlore seuns. Want die probleem by die ouer seun was net so groot as die by die jonger seun. Ek dink die Here Jesus vertel die storie met die oog op die Fariseërs, op die ouer broer van die verhaal. Die jonger broer het `n sondige lewe gely, hy het sy foute gemaak, maar hy het weer tot inkeer gekom. Hy het sy fout besef, hy het berou getoon en was bereid om die prys daarvoor te betaal. Kyk maar na sy nederige belydenis voor sy Vader in :18 en 19. "Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig! Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners." Maar kyk nou in teenstelling daarmee na die ouer broer se houding. :28 sê dat hy kwaad is. Waarom sou iemand in 'n geval soos hierdie kwaad wees? Is dit nie om 'n stewige stuk ontevredenheid en ondankbaarheid in sy hart te verskuil nie?

As hierdie ouer broer eerlik wou wees sou hy erken dat hy die jonger broer beny! Hy was net so ongelukkig met sy situasie as wat die Jonger broer was. Hy het net so min liefde in sy hart vir sy Vader as wat die jonger broer gehad het. - in : 29 spreek hy dit uit: hy sê: "Kyk, al die jare werk ek soos 'n slaaf vir Pa." Hy het 'n verhouding van meester slaaf met sy vader gehad. Daar was geen toegeneentheid nie. Wat is die verskil in die houding van 'n slaaf en 'n seun? - 'n Seun sê: "ek werk hard vir my vader want ek het hom lief en ek wil graag vir hom iets doen". - ek werk vir hom want ek wil. 'n Slaaf sê ek haat my eienaar, ek is nie lus om vir hom te werk nie maar omdat ek geen ander opsie het nie sal ek dit maar doen. 'n Seun sê: "my vader se voordeel is my voordeel, daarom doen ek graag my beste vir Hom". Sy geluk is my genot. 'n Slaaf sê: "ek werk want ek is gedwing". - Hierdie seun erken self dat hy nie sy vader lief het nie. Hy erken dat sy vader se eer en geluk nie sy prioriteit is nie. Sy houding teenoor sy Vader verskil net mooi niks van sy broer s'n nie! Nee wag, daar is een groot verskil! - Sy broer het sy fout besef en tot inkeer gekom. Hierdie seun het nog nie sy fout besef nie, hy het nog nie tot inkeer gekom nie. Maar tog staan hy krities teenoor sy broer.

Daar is niemand so krities as die ou wat skuldig is nie. :28 sê dat hy nie eers deel wil wees van die feesvieringe nie. Besef jy dat dit moontlik is om hard te werk vir God en vir sy saak, maar dat dit nie tot God se eer strek nie, en ook nie tot jou persoonlike voordeel nie? Vir jou geestelike lewe is dit van nul en gener waarde. - die gesindheid waarmee jy vir die Here werk maak die hele verskil. Daarom wil ek vandag vir jou warsku dat jy deur al die vereistes van die geloof kan gaan. Jy kan kerk toe kom. Jy kan jou bydrae gee, by aksies betrokke raak, selfs leiding in die kerk neem. Maar as dit nie vanuit 'n dankbare hart tot die vader kom nie, is jy steeds besig met slawewerk.

Dit lyk vir my of 'n onvergenoegde, ondankbare hart 'n mens blind maak. - Die vader sê vir die seun: - "Kind, jy is altyd by my", hierdie ouer broer se onvergenoegdheid het gemaak dat hy nie meer die voorreg en die genade raakgesien het van sy Vader se teenwoordigheid nie. - hy besef nie watter voorreg hy het om sommer maar net rustig en in goeie gesindheid met die vader te mag verkeer nie. Glo my, toe die jonger broer die oppervlakkigheid van die vriende daar ander kant gesmaak het, en toe hy die haat en veragting van die mense in die vreemde land in sy nood ervaar het, toe het h na sy vader verlang. Toe besef hy dat dit beter is om 'n slaaf te wees in sy vader se huis as wat dit is om vry te wees in 'n vyandige land. Alhoewel die ouer broer sy lewe lank in sy vader se huis was het hy dit nog nooit geleer nie – sy ondankbaarheid en onvergenoegdheid het hom blind gemaak vir die genot van 'n verhouding met sy vader.

Die ouer broer se ondankbaarheid en onvergenoegdheid maak hom verder blind vir die voordeel van sy vader se rykdom. As die vader te sterwe sou kom, sou die ouer broer twee derdes van die boedel kry en die jonger broer een derde. In hierdie geval is die verdeling reeds gemaak; die jonger broer het reeds sy deel gekry. Met ander woorde het alles wat op daardie plaas was, aan die ouer broer behoort! Hy kon ophou kla en kommer en baklei, en dit net geniet!Alles wat daar is is syne om te geniet en te besit! - Sien jy wat maak 'n onvergenoegde en ondankbare hart aan jou? - hy maak jou blind vir die mooi en goeie dinge rondom jou! Die dinge wat jy reeds besit en voor dankbaar moet wees! - jy sien nie eers meer raak watter genade jy ontvang nie – want jou hart lê elders, jy is nie eers meer bewus van die goeie gawes wat jy ontvang nie, want 'n ondankbare hart wil meer hê. Jy besef nie eers die genot van 'n vader se genade in jou lewe nie, want jou hart kyk ander pad. Dit herinner my aan Spr 30:15, 16 Die bloedsuier het twee dogters, hulle is "Gee!" en "Gee!" Daar is drie, nee, vier wat nooit genoeg kry nie, wat nooit sê: "Genoeg!" nie: die doderyk, die onvervulde begeerte om moeder te word, grond wat nie deurnat is nie en 'n vuur wat nooit sê "Genoeg!" nie.

Maar weet jy wat is die grootste nadeel van 'n ondankbare hart: - jy sien nie meer die belangrike goed in die lewe raak nie. Luister hier, jy gaan dit byna nie glo nie! - Waaroor kla die ouer broer? - hy kla oor 'n braaivleis! - hy sê in soveel woorde: pa jy't nog nooit eers vir my 'n bokkie gegee sodat ek en my pêlle kan gaan vleis braai nie. - hy kla omdat sy pa nie aangebied het om sy laaste braaivleis te finansier nie! (as hy sou vra sou sy pa dit tien teen een met vreugde gedoen het!) Sy braaivleis is vir hom belangriker as sy broer se welstand! - sy broer kon geskend geword het of siek geword het of blywende skade opgedoen het daar in die vreemde land! Hy kon gesterf het! Maar die ouer broer kerm oor 'n vleisbraai! Sy broer kon gaan tuis word het daar onder die uitvaagsels en kriminele en swendelaars waaronder hy verval het, sy broer kon geword het soos een van hulle en so sy hele lewe vernietig het, maar hy het nie, hy het tot inkeer gekom! Sy fout besef en teruggekom. Sy broer se lewe is gered van ondergang! Maar die ouer broer kerm oor 'n braaivleis! Sien jy wat maak 'n gees van ondankbaarheid en onvergenoegdheid aan jou? Hy maak jou blind vir dit wat werklik belangrik is in die lewe en maak dat jy jou tyd op sinnelose nuttelose blink goed spandeer!

Maar weet jy wat is die grootste gevaar van 'n lewe van ondankbaarheid en onvergenoegdheid? - dit is die feit dat dit jou distansieer van mense! Dit vernietig mens tot mens verhoudings in jou lewe. Dit maak van ander mense objekte wat jy inspan en aanwend om jou doel te bereik. Wanneer die broer na sy jonger boetie verwys dan praat hy van "hierdie seun van Pa" hy ontneem hom van alle identiteit. Kyk 'n bietjie hoe fokus hy op die jonger broer van hom se sonde. - Het jy gesien dat dit die eerste plek in die verhaal is waar prostitute ter sprake kom? - toe die verteller die verhaal vertel in :13 word daar slegs gesê dat hy losbandig gelewe het, maak daarvan wat jy wil. Maar toe die oudste seun na sy jonger broer se lewe daar ander kant verwys, toe praat hy van prostitute. Interessant om die ouer broer se reaksie vergelyk met die van al die ander mense rondom hom. Almal is dankbaar dat die jonger broer teruggekom het. Die Vader is dankbaar. Hy verloor sy waardigheid en hardloop die jonger broer tegemoet! Die slawe is opgewonde en bly! Selfs die engele in die hemel juig as ons Luk: 15:7 ;10 in ag neem. Selfs vir jou en my wat na die storie luister is dit die hoogtepunt. Maar die ouer broer is kwaad want Hy het homself gedistansieer van sy boetie. Sy ondankbare onvergenoegde hart het die menslikheid uit die verhouding gehaal.

Die doel van hierdie erediens is om 'n spieël voor elkeen van ons op te hou sodat jy kan sien hoe ondankbaarheid lyk! Sien jy wat maak ondankbaarheid aan jou menswees? Jou gedurige klagtes en ondankbaarheid oor elke situasie, verbeter niks nie! Dit bring net verdeeldheid, dit vermeerder frustrasie en gee vir die duiwel 'n vatkans in 'n mens se hart en in 'n geloofsgemeenskap. Om jou ondankbaarheid uit te spreek in 'n gedurige gekla, voed die fariseër in jou en maak jou totaal en al onbruikbaar in God se koninkryk. Luister wat sê Fil 2:14 Doen alles sonder kla of teëpraat. :15 Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld.

Besef jy dat as jy kla en ondankbaar is jy ongeskik is om 'n ligdraer vir God se koninkryk te wees? - 'n ondankbare hart is vir God 'n waardelose hart, jy is vir God en sy koninkryk 'n ronde nul op 'n kontrak werd. Daar is so baie dinge waarvoor die ouer broer dankbaar kon wees. - vader se liefde, vader se eiendom, die feit dat die pyn en ontbering wat sy broer deurgegaan het vir hom gespaar was. Hy moes dankbaar gewees het dat sy broer tot inkeer gekom het. Hy moes dankbaar gewees het dat sy broer ongedeerd teruggekom het. Hy moes dankbaar gewees het vir sy pa se vreugde! So baie dinge waarvoor hy dankbaar kon wees.

Dit is maklik om vir ons om aan 'n klomp dinge te dink waaroor ons ondankbaar kan wees, ons leef nie in 'n perfekte wêreld nie! Maar God beveel ons om dankbaar te wees. 1 Tess 5:18-19 Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. :19 Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. Dankbaarheid het niks met jou omstandighede uit te waaie nie, dit is 'n keuse wat jy moet maak. Het jy gesien dat die verhaal van die ouer broer nie klaar geskryf is nie? - waarom dink jy is dit so? - want die verhaal van die ouer broer is jou verhaal. Jy moet die verhaal klaar skryf. Jy skryf verder aan die verhaal wanneer jy hier uitstap vandag.

 

Stuur e-pos aan ds Piet Hattingh As jy met ds Piet oor die boodskap wil gesels
.
Tuisblad / Ons mense / Skakel in / Preke / Jaarprogram / Waarvoor ons staan / Geskiedenis / Kerkgebou / Fotogallery /Kranspoort