Kaleb: 'n man en God se beloftes
Numeri 13

 

Waarom lewe so min gelowiges 'n lewe van oorwinning in Christus?

 

Ons kyk na die karakter van Kaleb. In 1 Korintiërs 10:11staan dat die dinge opgeteken is as `n voorbeeld en waarskuwing vir ons. - sodat ons by hulle kan leer. Ek wil vir jou belowe dat daar baie te leer is by ou Kaleb.

 

Agtergrond: In Numeri 13 lees ons hoe die Here Israel verlos uit Egipte. Van daar het Hy hulle met `n effense ompad, na die Rietsee gelei. By die Rietsee vernietig Hy die Egiptiese leers. Van daar word hulle na Sinai gelei waar die Here vir hulle die Tien gebooie gee en die voorskrifte vir die bou van die tabernakel, en van daar af reguit na die beloofde land Kanaan.

God het dus nie tyd gemors om sy volk by die beloofde land uit te bring nie. Op die walle van die Jordaanrivier gee die Here aan die volk die opdrag om een man uit elke stam te kies as verkenners wat die beloofde land sou verken. Vers 3 van Numeri 13 stel dat hierdie manne leiers onder die volk was. Hulle opdrag vind ons in :18-20 van Numerieri 13:

"Trek deur die Suidland en op na die bergwêreld toe. 18 Bekyk die land, hoe dit is, en of die mense wat daar woon, sterk of swak, min of baie is, 19 of die land waarin hulle woon, goed of sleg is, en of die mense se stede oop of versterk is, 20 of die grond vrugbaar of skraal is, of dit bome het of nie. Doen julle bes om van die land se vrugte saam te bring." En dit is presies wat die manne doen. Hulle begin aan die suide van die land, naby die Rooisee, en van daar af stap hulle al noordwaarts om die land te verken. So met hulle reis kom hulle by `n plek met die naam Hebron waar die Enakiete woon. By die Eskolspruit sny hulle `n druiwetros af wat so groot was dat twee manne dit moes dra. Na veertig dae keer hulle terug na die volk met hulle rapport: "Ons het in die land gekom waarheen u ons gestuur het. Dit loop oor van melk en heuning, en hier is van sy vrugte.... 28 Maar die mense wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot. Ons het ook die nasate van Enak daar gesien. 29 Die Amalekiete woon in die Suidland, die Hetiete, Jebusiete en Amoriete in die Bergwêreld, en die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan.

Die Here het sedert Eks 3 al belowe dat hy die volk sou neem na `n land wat oorloop van melk en heuning. En hier kom die verspieders terug en bevestig: "dit is die land!" - dis die plek wat oorloop van melk en heuning. - Dis die plek wat die Here nog altyd vir ons in gedagte gehad het! - Maar.... (Waarom is daar altyd `n maar? ) Maar die mense wat daar woon is sterk, hulle stede is versterk en die nasate van Enak woon daar. Hier lees ons vir die eerste keer van die man met die naam Kaleb. - Kaleb staan op en sê: "Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen." (Numeri 13:30) Die ander tien manne raak driftig en sê: "nee ons kan nie want hulle is sterker as ons. En dan begin hulle die volk opsteek deur `n slegte gerug te versprei. - As die waarheid dan die werk nie, versprei dan doodeenvoudig `n storie wat nie heeltemal waar is nie. Wat aan die waarheid net so `n ou effense draaitjie gee. (Geen wonder dat die Here onwaarheid so haat nie) En so draai die tien manne die volk se opinie teen Moses, Josua en Kaleb.

Wat vir my interessant van die verhaal is, is die feit dat die ouens met hulle eie voete in die land gestap het wat God al `n geruime tyd aan hulle belowe. Daar in die nuwe land sien hulle met hulle eie oë dat dit werklik is soos wat God belowe het. Met ander woorde, hulle bevestig God se beloftes: - dit is `n land wat oorloop van melk en heuning. Maar hulle is nie bereid om God te vertrou dat Hy hulle sal help om die land in besit te neem nie. - die feite is daar, die kennis is daar maar die geloof en vertroue in God ontbreek. Numeri 14:1-4 Som dit mooi op: Daardie nag het die hele volksvergadering aanhoudend gekla. 2 Al die Israeliete was in verset teen Moses en Aäron, en die hele vergadering het vir hulle gesê: "As ons maar in Egipte of in hierdie woestyn gesterf het! 3 Waarom het die Here ons na hierdie land toe gebring? Net om doodgemaak te word? Ons vrouens en kinders sal krygsgevangenes word. Is dit nie vir ons beter om na Egipte toe terug te gaan nie? 4 Hulle het toe vir mekaar gesê: "Kom ons kies 'n leier en gaan terug Egipte toe!

Moses, Aaron, Josua en Kaleb val voor die volk op hulle knieë neer, skeur hulle klere en pleit by die volk om in geloof uit te stap en God en sy beloftes te vertrou. Maar die volk het klaar besluit, hulle wil nie, want hulle glo nie dat God dit kan doen nie. God word so kwaad vir hierdie blatante ongeloof van die volk dat Hy hulle daar en dan wil vernietig. Hoor wat gebeur in God se hart: Numeri 14:11 Die Here het vir Moses gesê: "Hoe lank sal hierdie volk my almag bly onderskat? Hoe lank sal hulle weier om op My te vertrou ten spyte van al die wonders wat Ek onder hulle gedoen het?

Hoor jy wat maak God woedend? As ons sy almag onderskat, as ons hom nie vertrou nie ten spyte van al die wonderlike dinge wat Hy al vir ons gedoen het. Daar en dan besluit God dat hierdie weerspannige volk nie die beloofde land sal binne gaan nie. Hulle ongelowige weerspannigheid diskwalifiseer hulle. Hulle sal nie die beloofde land ingaan nie. - Die volk draai daar op die walle van die beloofde land om om in die woestyn rond te trek totdat hierdie geslag ongelowiges uitgewis is. Maar, sê die Here in :24. Omdat my dienaar Kaleb 'n ander gesindheid het en My getrou gevolg het, sal Ek hom inbring in die land wat hy gaan verken het, en sy nageslag sal dit besit. (Numeri 14:24).

Stel vir jou een oomblik Kaleb se posisie voor: - Hy het die bergwêreld by Hebron gesien, Hy het sy hart daarop gesit. Hy was bereid om in geloof uit te stap om dit sy eie te maak, maar hy moet saam met die volk omdraai terug woestyn toe. - Hy het niks verkeerd gedoen nie - hy is die slagoffer van sy mede volksgenote se ongeloof. En wat doen hy terwyl hy vir vyf en veertig jaar deur die woestyn moet strompel? Hy loop nie en kerm en kla nie. Hy murmureer nie. Hy bly gefokus: Die Here het belowe en die Here sal sy beloftes aan my gestand doen. - Almal rondom hom sterf. - dit is naderhand net `n klomp "youngsters" hier rondom hom. Maar daar is een ding wat vir Kaleb op sy voete hou en dit is die beeld van die bergwêreld by Hebron, en die belofte van God dat dit syne sal word.

Nadat die weerspannige geslag in die woestyn gesterf het, trek hulle terug na die Jordaanrivier. God bevestig sy verbond met hulle en hulle word weer besny. Toe hulle uiteindelik die Jordaanrivier oorsteek veg Kaleb nog vyf jaar geduldig saam met Josua en die volk om die land skoon te maak van al die vyandige volke. Die Ammoniete, die Ammoriete, die Rafaiete en die Filistyne. Soos die land skoongemaak word van vyandige volke so word die land verdeel en aan die Israeliete gegee.

En dan eendag, is daar `n klop aan Josua se deur en Kaleb stap in. Lees saam met my uit Josua 14:6-15. 6 Toe die mense van Juda na Josua toe gekom het in Gilgal, het Kaleb seun van Jefunne, 'n Kenassiet, vir Josua gesê: "Jy onthou wat die Here vir Moses, die man van God, oor jou en oor my gesê het in Kades–Barnea. 7 Ek was veertig toe Moses, die dienaar van die Here, my van Kades–Barnea af gestuur het om die land te verken. Ek het aan hom verslag gedoen soos ek sake gesien het, 8 maar my medeverkenners wat saam met my gegaan het, het die volk se hart laat verstyf van angs. Ek het die Here my God getrou gevolg, 9 en Moses het my daardie dag met 'n eed belowe: 'Die gebied wat jy deurgestap het, sal jou en jou nageslag se permanente besitting wees omdat jy volhard het in jou trou aan die Here my God.' 10 Van die tyd af dat die Here dit vir Moses gesê het toe Israel deur die woestyn getrek het, het die Here my in die lewe laat bly soos Hy beloof het, vyf en veertig jaar lank. Ek is nou 'n man van vyf en tagtig, 11 maar ek is vandag nog net so sterk as die dag toe Moses my uitgestuur het. Die krag wat ek toe gehad het, het ek nou nog. Ek kan nog gaan oorlog maak en behoue terugkom. 12 Gee my nou asseblief die bergwêreld waarvan die Here daardie dag gepraat het. Jy het daardie dag gehoor dat daar Enakiete is en groot vestingstede. Miskien sal die Here by my wees sodat ek hulle kan verower soos Hy beloof het. 13 Josua het sy seën uitgespreek oor Kaleb seun van Jefunne en aan hom Hebron as besitting toegeken. 14 Daarom behoort Hebron tot vandag toe aan Kaleb seun van Jefunne, die Kenassiet. Dit is omdat hy die Here die God van Israel getrou gevolg het. 15 Die naam van Hebron was voorheen Kirjat–Arba. Arba was die naam van 'n groot man onder die Enakiete. Die oorlog was verby, die land het gerus.

Daar stap `n vyf en tagtig jarige man in Josua se kantoor in. - Maar moenie dink hy stap met 'n kierie nie.Hy het `n glimmende swaard aan sy sy. Daar is nie moegheid en tamheid in sy oë nie, sy oë vlam! Daar is vuur daar! Hy loop nie geboë nie hy staan regop. Die vyf en veertig jaar in die woestyn wat agter hom lê het hom nie gebreek nie, dit het hom gelouter! Dit het hom voorberei vir hierdie een groot dag, die dag wat hy die reuse Enakiete uit Hebron kan verwilder sodat die Here se beloftes in sy lewe waar kan word. En daardie dag is vandag! "Josua, gee vir my toestemming dat ek kan gaan asseblief!"

Kry jy die prentjie? As jy bereid is jouself onvoorwaardelik in God se hande te plaas. As jy die Here met jou hele hart en hele siel en volle verstand dien. Dan word jy deel van die koninkryk van God, en God sal aan jou `n Hebron gee, `n erfdeel `n eie deel van sy koninkryk waarvoor jy verantwoordelik is. Daar mag struikelblokke wees op pad na jou Hebron toe, niemand het belowe dat dit eenvoudig en maklik sou wees nie. Baie min mense se pad na sy Hebron toe is geplavei. Maar God verwag van jou om in geloof, onwankelbaar vas te bly vertrou op die beloftes van God. Al lyk jou omstandighede soms asof dit nie meer moontlik is dat God se beloftes kan waar word nie, verwag God van jou onwankelbare vertroue. Al is jou lewenskrag besig om af te neem, vra God dat jy gefokus sal bly. (Klink dit vir jou asof God n pensioenskema vir gelowiges het as jy so na die verhaal van Kaleb luister?)

Hou moed totdat God se beloftes in jou lewe waar word. Net so terloops, weet jy waar Hebron die berg van Kaleb vandag lê? - Dis Jerusalem, die stad van koning Dawid. Die plek waar ons Here Jesus gekruisig is. - En Kaleb? Hy was `n skakel in God se groot ketting wat ons die koninkryk van God noem. - so is elkeen van ons wat vandag hierdie boodskap hoor elkeen `n skakel in God se koninkryk. Wees getrou oor die werk wat God aan jou toevertrou het, doen dit in geloof, met volharding. Moenie moedeloos word oor jou omstandighede nie, maar hou jou oë op Jesus as die een wat voor loop en werk saam met God dat sy koninkryk ook hier in jou eie klein invloedsfeer kan kom.

Ons het begin deur die vraag te vra: "waarom kry ons dit nie reg om 'n lewe van oorwinning in Christus te lewe nie? - wel die antwoord is eenvoudig: dit is as gevolg van ongeloof. Ons is bereid om te glo van `n land wat oorloop van melk en heuning. Maar ons is nie bereid om te glo dat God ons die krag sal gee om die reuse te gaan verslaan nie. Ons kerm en kla as dinge nie presies uitwerk soos dit ons pas nie ons is nie bereid om die vyf en veertig jaar pad van God deur die woestyn te stap tot by die punt van oorwinning nie.

Stuur e-pos aan ds Piet Hattingh As jy met ds Piet oor die boodskap wil gesels
 
Tuisblad / Ons mense / Skakel in / Preke / Nuusbrief / Jaarprogram / Leesprogram / Waarvoor ons staan / Geskiedenis / Kerkgebou / Fotogallery /Kranspoort