Die uitnemende lewenstaak: Gee uitbundig!

2 Korintiërs 8:9

Eendag was daar 'n magtige koning. Hy was baie ryk en het in die grootste weelde en oorvloed geleef, maar hy was 'n goeie man. Ten spyte van die oorvloed waarin hy geleef het, het hy nog steeds 'n hart gehad vir die gewone ouens op straat. Hy besluit toe om homself te vermom as 'n gewone man sodat hy met die gewone mense kan gaan meng. Hy ontmoet toe 'n ou wie se werk dit was om vure te stook in die paleis. Daar was gangetjies en tonnels in die paleis se mure ingebou sodat die ou ongesiens, sonder om die mense in die paleis te steur, kon rondkruip en vure in die verskeie kaggels te gaan stook. - Dit was 'n vuil en ondankbare werk. Die koning het afgegaan na die kelders van die paleis en daar tussen die hout en die roet en die steenkool, daar het hy met sy gewone klere aan langs die ou gaan sit en sy vriend geword. Toe dit etenstyd word het die vuurmaker sy vuil hand in 'n ou goiingsak gesteek en 'n ou droë stuk brood daar uitgehaal. Hy het dit middeldeur gebreek en vir die koning die helfte gegee. Hulle het saam uit sy ou vuil waterbottel gedrink. Hulle het gesels oor die land se sake. Oor hoe die mense van die land die regering beleef. Hoe die mense dink en hoe hulle voel. Die twee, die koning en die vuurmaker, het goeie vriende geword. Dag na dag het die koning sy koningskleed uitgetrek en vir 'n tyd lank by sy nuwe vriend gaan kuier. Sy vriend het hom begin vertel van sy eie lewe. Hy het met hom die probleme gedeel wat 'n gewone man ervaar, oor sy vrou en sy kinders, en hoe hy sukkel om te oorleef. Die koning het dikwels vir die vuurmaker raad gegee en hom gehelp om die regte besluite in die eenvoudigste sake te neem. Uiteindelik kon die koning dit nie langer uithou nie en sê toe vir die man dat hy die koning is. Hy sê toe vir die man dat hy graag vir om 'n geskenk wil gee en dat die nuwe vriend van hom vir hom enigiets kan vra, hy sal dit vir hom gee. Die vuurmaker het stil geword en diep begin dink. Na 'n lang ruk kyk hy na die koning in sy gewone klere en sê vir hom: My heer die koning, u het reeds die prag en praal van u paleis verlaat om hier in die roet en as by my te kom sit. U het ou droë brood saam met my geëet. U het in my hartseer en vreugdes gedeel. U het vir my raad gegee. U het my vriend geword. Ek kan vir niks meer waardevol vra as dit nie. Al wat ek van u vra is dat u nie nou u vriendskap van my weerhou nie.

Lees 2 Kor 8:9 Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word.

Dit is presies wat God vir ons kom doen het deur sy seun Jesus Christus. As ons na die konteks van hierdie besondere juweel in die Bybel kyk, dan sien ons dat Paulus besig is om met die gelowiges in Korinte te praat oor hulle offergawes. Daar is van die begin van die Christelike geloof met mense gepraat oor geld, oor offervaardigheid en oor hulle gawes. In hierdie geval gaan dit oor dieselfde vraag wat ons vandag nog vra: hoeveel moet ek gee? - moet ek 'n tiende gee? 'n Tiende gee voor of nadat al my verantwoordelikhede nagekom is? Moet ek 'n tiende van my besigheid se wins gee of net 'n tiende van my persoonlike salaris? Hoeveel moet ek gee?

Paulus sê dit gaan nie oor hoeveelhede en persentasies en desimale nie. Dit gaan oor jou gesindheid. Eers wys Paulus hulle op die gesindheid van die gelowiges in Masedonië. - julle moet nie somme maak oor wat julle gaan gee nie, julle moet soos die Masedoniërs gee. Hulle was verskriklik arm. Dit het egter nie gekeer dat hulle sommer 'n groot bedrag geld gegee het vir die kollekte wat ek op die oomblik vir die arm Christene in Judea insamel nie. Ek het met my eie oë gesien dat hulle soveel gegee het as wat hulle kon. Nee, hulle het baie meer gegee as wat hulle kon bekostig. Daardie Christene van Masedonië het my omtrent gesmeek om deel te kon hê aan hierdie hulpprojek. Hulle was so bekommerd oor die gelowiges in Judea dat hulle met alle mag en mening by hierdie geldinsameling betrokke wou raak. Ek het glad nie vir die Christene in Masedonië gevra om geld vir die kollekte te gee nie. Hulle het dit uit hulle eie gedoen. Omdat hulle hulle lewe volledig aan die Here gegee het, was dit baie maklik vir hulle om hulle geld tot my beskikking te stel. So het hulle presies volgens God se wil opgetree. Die Masedoniërs se toewyding het my toe laat besluit om vir Titus te vra om die insameling van die geldelike offers waarmee hy vroeër reeds begin het daar by julle te gaan voltooi. (2 Kor 8:1-6 Boodskap)

Julle moenie tiendes van bruto en netto bereken nie, sê Paulus julle moet soos die Masedoniërs gee. Hulle het gegee ten spyte van hulle armoede. Hulle het gegee soveel as wat hulle kon. Hulle het meer gegee as wat hulle kon bekostig. Hulle het Paulus gesmeek om te mag gee. Hulle het gegee omdat hulle omgegee het vir die gelowiges in Judea omgegee het. Hulle het gegee sonder dat hulle daarvoor gevra is. Hulle het gegee omdat hulle lewens volledig aan Christus behoort het. Ons moet gee soos wat die Masedoniërs gegee het.

En dan in :9 wys Paulus op 'n tweede voorbeeld. Ons moet gee soos Christus gegee het. Jesus het homself arm gemaak sodat ons ryk kan word. En ons moet gee omdat Jesus so baie gegee het. Ons moet gee soos Jesus vir ons gedemonstreer het, ons moet gee omdat ons dankbaar is vir die opoffering van Jesus. Hoe het Jesus gegee? Paulus begin :9 met die woorde: "Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus" Jesus het in ooreenstemming met sy karakter gegee. Hy gee uit genade omdat dit sy karakter is om genade te betoon. Hy is liefde en daarom gee hy sonder om terug te verwag. Christus gee uit genade want dit is wat Hy doen. Christus gee uit medelye want dit is wat uit sy karakter straal! - Besef jy dat die manier wat jy vir ander mense in nood gee, meer van jou karakter sê, as enigiets anders wat jy kan doen?

Christus se karakter word weerspieël in die genade waarmee Hy gee. Wat weerspieël die manier wat jy gee van jou karakter? Wat van jou karakter word sigbaar as jy met 'n trae hart en 'n lang gesig gee? Wat word weerspieël as jy ten spyte van jou oorvloed maar 'n klein niksseggende bedraggie afknyp? Wat sê van jou as jy net gee as jy daarvoor gevra word? Die manier wat jy gee weerspieël jou karakter. Jesus het gegee sonder om die koste te bereken.

Daar staan in :9 "hoewel hy ryk was" en hierdie "hoewel hy ryk was" moet jy nou nie interpreteer in terme van: "Jesus het so baie gehad en daarom het hy uit sy oorvloed gegee" nie. Want dis nie wat dit beteken nie. - Daar staan: Jesus het so baie gehad wat hy moes prysgee, maar tog het hy alles gegee. Paulus verwys natuurlik hier na Christus se ewige heerlikheid wat Hy moes prysgee sodat hy kon gee. En wat was dit wat Jesus moes prysgee? - Daar is geen vers in die Woord van die Here wat dit duideliker uitdruk as Fil 2:6 nie. Ek lees uit die Boodskap vertaling: Jesus staan in status op gelyke voet met God. Hy was egter nie so vol van Homself dat Hy tot elke prys aan dié status wou vasklou nie. Toe die tyd ryp was, het Hy die status en eer wat Hy gehad het eenkant toe geskuif. Hy het 'n mens tussen mense geword. Asof dit nie genoeg was nie, het Hy sommer 'n gewone mens geword wat op die oog af nie uitsonderlik gelyk het nie, ja, iemand van wie baie ander mense niks gedink het nie. As mens onder mense het Hy die pad van vernedering nog verder geloop. Dit sou Hom uiteindelik by die dood aan die kruis uitbring. Wat 'n vernedering! God het dit egter van Hom gevra en Hy het die pad van vernedering gehoorsaam enduit geloop.

Sal ek en jy ooit in woorde kan beskryf wat hierdie opoffering van Jesus behels het? - Dat Hy, Skepper van die heelal homself tot in die laagste vlak tussen mense verneder. Toe Petrus in die tuin van Gestemane wou veg om Jesus te verlos, toe sê Jesus vir hom: "Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel." (Mat26:53) Ek verstaan hierdie opoffering van Jesus dat dit nie 'n eenmalige opoffering was wat Hy eenmaal moes maak en toe is Hy op aarde gegooi nie. - Ek verstaan dat Jesus oomblik vir oomblik van geleentheid tot geleentheid homself moes bedwing. Hy kon op enige tydstip opgehou het met die proses. Hy kon by enige geleentheid sy goddelike outoriteit terug geneem het en homself verlos het, maar oomblik vir oomblik geleentheid vir geleentheid het hy sy Goddelike outoriteit prysgegee en homself opgeoffer. Jesus het dag vir dag, oomblik vir oomblik sy heerskappy en outoriteit opsy geskuif om dag vir dag oomblik vir oomblik slaaf te wees sodat ons verlos kan word. Paulus sê ons moet gee soos Christus. Opofferend, sonder om die koste te bereken.

Jesus het gegee sonder om homself ag te neem. Hy ter wille van julle arm geword, As hier staan dat Jesus arm geword het, moet ek en jy nie dink in terme van Jesus se aardse armoede nie. Ek dink nie Jesus was besonder arm nie. - tot en met sy dertigste jaar het Hy 'n heel gemiddelde middelklas bestaan gevoer. Hy het in 'n ambagsman se huis grootgeword en hy was self 'n skrynwerker. Selfs toe Hy met sy bediening begin het en dissipels rondom hom vergader het, was daar vroue wat vir hulle gesorg het. - Jesus was nie fisies arm nie. - Wat beteken dit dan dat hy ter wille van ons arm geword het? Dit dui op die ongelooflike kloof wat Jesus moes oorbrug van sy posisie as God en koning van die heelal na 'n mens toe wat homself as losprys gee vir ander.

Dit bevestig net wat ons nou -nou in Fil 2 gelees het. - hy het in die Hemele as God gewoon, maar die posisie van goddelikheid en heerlikheid en glorie en almag het Hy opsy geskuif, prysgegee sodat Hy mens kon word om sy lewe vir ons te gee. Sy menswording was die posisie van armoede. Dat Hy uit 'n menslike vrou gebore moes word was sy armoede. Dat hy hom aan aardse ouers moes onderwerp was sy armoede. Dat hy hom aan aardse regerings moes onderwerp. Dat hy nie sy goddelike krag gebruik het toe Hy onregverdig veroordeel was nie – dis sy armoede. Dat Hy van God verwyder word om ter helle neer te daal, dis sy armoede. - kan ons Jesus se armoede in een woord opsom? Opoffering. - Jesus moes opoffer! Hy moes prysgee, en in alles het hy homself nooit in ag geneem nie.

Ai geliefde, is dit nie ons grootste struikelblok in die lewe nie? - ons sê vir onsself: "ek kan nie dit en dat en soveel gee nie! Wat gaan dan oorbly?" "As ek soveel gee het ek nie genoeg om op myself te spandeer nie." - "as ek soveel gee, kan ek nie my duur lewensstyl voortsit nie. Ek sal nie my duur tv en duur motor en duur akkomodasie kan bekostig nie!" Ek en jy gee nie, want ons is nie bereid om op te offer nie! Ons het nog nie begin om te gee soos Christus gee nie! Hy het totaal selfopofferend gegee!

Christus het gegee tot voordeel van ander! sodat julle deur sy armoede ryk kon word. Het jy al gesê: "ek gaan nie gee nie, want daai ander ou gaan dit net op drank of op ander goed mors"? Wat sou gebeur het as Jesus dit gedoen het? As Hy sou sê; "ek gaan nie vir hulle sterf nie, hulle gaan dit nie waardeer nie!" of: "ek gaan nie vir hulle sterf nie, hulle sal net my genade misbruik om nog meer sonde te doen!" Nee Christus het, hoewel Hy ryk was, ter wille van ons arm geword. Ten spyte van die feit dat ons dit nie verdien nie. Ten spyte van die feit dat ons nie daarvoor dankbaar is nie. Ten spyte van die feit dat ons nie nou probeer om minder sonde te doen nie. Jesus het dit uit en uit gedoen tot voordeel van ons.

Jy vra vir my watter rykdom kry jy uit Christus se opoffering? Luister hoe mooi stel die Boodskap vertalingdit: Jy het die lewe ontvang as 'n genade-geskenk van God! - jy beskik oor geloofsekerheid! God woon deur sy Gees in jou! Hy lei jou op die mees intieme manier elke dag! - God se oor is nooit ver as jy met Hom wil praat nie! God se nommer is nooit besig vir jou nie! God se hand is nooit vir jou toe nie. - Jy kan van hom verwag alles wat goed en mooi en volmaak is! - dis die rykdom waaroor jy beskik! Paulus sê dit is die manier wat ons moet gee! Gee dan uit die rykdom wat jy ontvang het!

Jesus het vir ons die voorbeeld gestel van hoe ons moet gee. - Hy het gegee volgens sy karakter. - Hy het gegee sonder om die koste te bereken. Hy het gegee sonder om Homself in ag te neem. Hy het gegee sodat ons daaruit voordeel kan trek. Maar geliefde, ek wonder of die belangrikste nie is dat Hy gegee het nie. - Hy het gegee! En omdat ons dankbaar is dat Hy gegee het behoort ons ook uit dankbaarheid vir ander te gee.

Ek sluit af met die storie van Eddie Ogan. Die storie gaan oor 'n ervaring wat sy gehad het toe sy 14 jaar oud was. Die storie het in haar kerk se nuusbriefie verskyn in 1946: 'n maand voor Paastyd het ons dominee aangekondig dat 'n spesiale Paasinsameling gehou sal word vir 'n behoeftige gesin in ons gemeente. Hy het vir elke gesin gevra om op te offer in die volgende paar weke sodat hulle ruim tot die gesin se nood kan bydra. Toe ons tuiskom het ons gesels oor wat ons as gesin kan opoffer sodat ons 'n ruim bydrae kan maak. Ons besluit toe om 'n groot sak patats te koop en vir die maand net van patats te lewe. Dit sou ons help om $20 te spaar op ons kruideniers rekening. Ons het ook besluit om nie daardie maand radio te luister nie en om die ligte net vir die nodigste te gebruik. My suster, Darlene het tuinwerk gedoen en ander mense se huise skoongemaak, Ek en Ocy (ander sussie) het babas opgepas vir geld. Daardie maand Februarie van 1912 was die beste maand van ons lewens! Elke dag het ons die geldjies getel wat ons so ingesamel het. Elke Sondag het die dominee ons herinner dat ons moet bydra vir die arm gesin en ons het innemend vir mekaar geglimlag. Die dag voor Paassondag het ek en Ocy al ons spaargeldjies na die winkel gevat en die winkeleienar het die geld getel en vir ons twee nuwe $20 note gegee en een splinter nuwe $10 – noot. Ons kon nie wag vir Sondag se kollekte nie! Toe die dominee klaar gepreek het, is die spesiale kollekte opgeneem. Moeder het die $10-noot ingegooi en ek en Ocy het elkeen 'n $20-noot gehad om in te gooi. Ek het so ryk gevoel! Ons het al die pad van die kerk af geloop en sing. By die huis daardie middag het moeder vir ons 'n verrassing gehad! Daar was eiers saam met die patats vir middag ete! Die namiddag het die dominee daar aangery gekom met sy motor. Moeder het hom ingenooi maar hy was te haastig. Toe sy terugkom het sy nie 'n woord gesê nie. Sy het die koevert opgemaak wat die dominee vir haar gegee het. Daar was geld in. 'n splinternuwe $10 – noot. Twee nuwe $20 – note en sewentien ou $1 – note en bietjie kleingeld. Moeder het die geld teruggesit in di koevert. Ons het nie met mekaar gepraat nie, net na die vloer gesit en kyk. Ek het nog nooit in my lewe so arm gevoel nie. Die volgende week is ons skool toe,maar dit was nie lekker nie. Dis nie lekker om as die arm mense van die dorp beskou te word nie. Saterdag, rondom die etenstafel het moeder vir ons gevra wat ons met die geld wil doen. Ons het nie geweet nie! Ons het nie geweet ons is arm nie. Daardie Sondag by die kerk was daar 'n Sendeling uit Afrika. Hy het vertel hoe die mense van Afrka vir hulle kerke bou uit modder. Al wat hulle nodig het was sink sodat hulle vir die kerke dakke kan opsit. Hy ht gesê dat met $100 'n dak op 'n kerk gesit kan word. Die dominee het gesê dat ons moet opoffer om te gee sodat die kerke dakke kan kry. Ons het a mekaar gekyk en vir die eerste keer daardie week vir mekaar glimlag. Moeder het die koevert uit haar handsak gehaal en vir my gegee. Ek het dit in die kollektebordjie gesit. Toe bydraes getel is het die dominee aangekondig dat daar net meer as $100 ingesamel is. Die sendeling was verstom. Hy het nie so 'n groot bedrag van so 'n klein kerkie verwag nie. Hier is seker ryk mense in julle gemeente het hy gesê. Toe tref dit ons! Ons het $67 van die $100 gegee! Ons was die ryk mense in die kerk! Die sendeling het so gesê! Van daardie dag af sou ons nooit weer die arm mense in di gemeente wees nie. Jou en my rykdom lê in wat on uit genade van Christus ontvang het, en ... in dit wat ons gee.

2 Kor 8:9Julle weet tog hoe ongelooflik goed ons Here Jesus Christus vir ons almal is. Al die eer en glorie in die hemel behoort aan Hom. Tog het Hy hierdie hemelse rykdom ter wille van julle opgeoffer toe Hy in julle plek aan die kruis dood is. Christus het julle wat eers brandarm was, nou skatryk gemaak. Gaan wys nou hoe dankbaar julle teenoor Hom is deur julle besittings met ander gelowiges te deel.

Stuur e-pos aan ds Piet Hattingh  As jy met Ds Hattingh oor die boodskap wil gesels.

Tuisblad / Ons mense / Skakel in / Preke / Nuusbrief / Jaarprogram / Leesprogram / Waarvoor ons staan / Geskiedenis / Kerkgebou / Fotogallery / Kranspoort