Hoe om die volgende verkiesing te verloor

1 Konings 1-11

Met ons leesprogram is ek diep aangeraak deur die boek 1 Konings. Ons kan die boek 1 Konings opsom as 'n les in leierskap: “Hoe om die volgende verkiesing te verloor.”

Die boek begin met die sterfbed van koning Dawid, sekerlik die mees suksesvolle koning in die geskiedenis van Israel, die koningskap van Salomo, die sukses en voorspoed van die ryk van Salomo en die daaropvolgende verval van Israel.

Ons gaan vandag in die geskiedenis van Salomo baie leer oor 'n oorwinnende Christelike lewe voor God.

Salomo se storie begin by die laaste jare van Dawid. Hy was bedlêend en moes daagliks versorg word. Dit was duidelik dat hy nie meer lank sou lewe nie. - Dit was toe dat Adonia, 'n seun van Dawid en jonger broer van Absalom besluit om homself aan te stel as koning oor Israel. Hy het op `n strydwa deur die strate gery met vyftig man wat voor hom uithardloop om te wys hoe belangrik hy was. Hy het selfs met Joab, die generaal van die leër en met die hoëpriester Abjatar onderhandel dat hulle hom sou ondersteun. Hy het `n lekker partytjie gereël en al sy broers en al die amptenare in die koning se diens daarheen genooi om te laat weet dat hy nou die koning is. Hy het nie die profeet Natan genooi nie sekerlik omdat hy geweet het dat hy nie die profeet `n rat voor die oë sal kan draai nie. Natan is op sy beurt na Batseba toe en Batseba het vir die koning gesê van Adonia se poging. Dawid gee opdrag dat Sadok die hoëpriester, die profeet Natan en Benaja seun van Jojada geroep moet word sodat hulle vir Salomo kan salf tot koning. (Lees 1 Kon 1:33- 37)

Wat is die eerste les wat ons uit die koningskap van Salomo leer? Slegs wanneer die koning deur God aangestel is as koning sal hy met God se seën kan regeer.

Ek glo dat die selfde geld in jou persoonlike geloofslewe. - Ons het nogal `n redelike debat hieroor gevoer tydens ons pinksterweek. Soos wat `n koning se koningskap begin met `n bekroningsgeleentheid. Soos wat `n huwelik begin met `n huweliksbevestiging. Soos wat `n lewe begin met `n geboorte so begin ook jou verhouding met God op `n dag wat jy God se genade en liefde deur sy seun Jesus Christus erken en dit bewustelik aanvaar en jou daaraan onderwerp.

Die tweede vereiste van koningskap vind ons in 1 Kon 2: 1-4. Ons kan dit opsom deur te sê: Slegs wanneer die koning nougeset bly by God se voorskrifte sal hy God se seën ervaar.

Luister hoe mooi vertel die “Boodskap”vertaling die verhaal:

Toe Dawid voel sy einde is naby, het hy sy seun Salomo laat kom. Soos 'n goeie pa het hy Salomo 'n paar laaste stukkies goeie raad gegee. 2"Binnekort sal ek soos alle mense sterf" het Dawid begin. "Maar jy moet moed hou en sterk wees. Doen wat die Here jou God van jou vra. Leef volgens die riglyne wat Hy vir Moses gegee het. Gehoorsaam sy wette en kom al sy voorskrifte na. As jy dit doen, sal dit altyd met jou goed gaan. As jy getrou is, sal die Here sy belofte aan my nakom. Lank gelede het Hy belowe dat my nageslag altyd oor Israel sal regeer. Maar dan moet my kinders Hom met alles in hulle, ja, met hulle hele wese,liefhê.

`n leier kan slegs op God se krag en teenwoordigheid staat maak wanneer hy nougeset bly by die voorskrifte van God. Daar is baie leiers daar buite, en baie van hulle lewer goeie resultate, maar slegs `n leier wat 100% binne God se wil bly deur 100% alles te doen wat God van hom verwag, slegs daardie leier kan staat maak op God se seën en God se teenwoordigheid in sy leierskap. Dawid noem vir Salomo vyf dinge: hy moet moed hou en sterk wees; hy moet gehoorsaam wees aan God se wette en voorskrifte; Hy moet getrou wees; hy moet God liefhê.

Die derde vereiste vir suksesvolle koningskap vind ons in 1 Konings 2vanaf vers 13-47. Slegs wanneer jy van alle vyande wat jou bedreig ontslae raak. Ons lees dat Salomo eers baie rustig teenoor Adonia sy broer optree wat homself tot koning wou salf. Maar toe Adonia met `n versoek kom dat hy met Abisag die Sunemmitiese meisie trou wat vir Dawid op sy sterfbed versorg het. Bewys hy so dat hy nog nie sy sy ambisie vir die troon weggebêre het nie. - Hy sou vir ewig vir Salomo `n bedreiging gebly het. Salomo gee in 1 Kon 2:22-25 die opdrag dat Adonia doodgemaak word. In :26 van dieselfde hoofstuk Sien Salomo die hoëpriester Abjatar wat ook vir Adonia gesteun het en hy ontslaan hom as hoëpriester. In :26 van 1 Kon 2 gee Salomo die opdrag dat generaal Joab wat ook vir Adonia ondersteun het vermoor word, en in 1 Kon 2:36 is die uiteindelik Simei se beurt – jy onthou mos nog vir Simei. Hy was die ou wat vir Dawid so verskriklik gevloek het en onder die klippe gesteek het. >Wat is die les wat ons hier leer? - `n leier kan nie leier wees as hy gedurig ook sy rug moet dophou nie. - `n leier moet sorg dat hy lojale mense rondom hom vergader. `n Leier moet vorentoe konsentreer.

Maar hier is ook `n les in opgesluit vir my en jou as gelowiges. Jy kan God se seën in jou leierskap verwag slegs as jy van al die bedreigings van binne ontslae raak. - Ek praat natuurlik van troetelsondes, van gewoontesondes. Jy weet natuurlik waarvan ek praat, daardie sondes wat keer op keer vir jou plattrek. Daardie sondes wat `n patroon in jou lewe vorm. Daardie sondes wat hulleself in jou lewe herhaal omdat jy een of ander verbintenis daarmee gemaak het. Jy sal moet vastrap en daardie goed keel-afsny in jou lewe anders sal hulle die krag uit jou geestelike lewe tap.

Slegs wanneer jy die regte dinge van God verlang.

In Hoofstuk 3: 4 lees ons hoedat die Here aan Salomo verskyn nadat hy by `n hoogte in Gibeon geoffer het en vir Hom sê dat hy enigiets kon vra en God dit vir hom sou gee. Salomo vertoon groot insig en geloof as hy vir God vra: Het jy opgemerk waarvoor vra Salomo? - Hy vra nie soos in die volksmond bekend staan vir wysheid nie. Hy vra dat hy gehoorsaam sal wees aan God en sodoende insig om die volk te regeer. God vind dit goed en rus vir Salomo toe met alles wat hy op hierdie aarde nodig kan hê om van sy regering `n sukses te maak. - God belowe hom ongekende wysheid en insig. God belowe ook aan Hom rykdom meer as wat enige ander koning ooit sou besit. En sê die Here, Hy sal Hom ook nog `n lang lewe gee as... Ja hier is voorwaardes aan verbonde:

Ek wonder nogal as die Here vandag vir jou 'n blanko tjek gegee het en vir jou sou sê jy kan enigiets vra, net wat jy wil, wat sou jy vra? Sou jy iets vra tot jou eie voordeel, sou jy iets vra tot iemand anders se voordeel of sou jou versoek gewees het tot God se eer en heerlikheid? - Slegs wanneer jy die regte goed van God verlang kan jy staat maak op God se seën in jou lewe.

Slegs wanneer hy goeie leierskap aan die dag lê.

In Hoofstuk vier lees ons van Salomo se wyse regering. Ons lees hoedat hy bekwame manne aanstel as hoofamptenare, as hoof van die leer, as hoëpriester en hoof oor die streekbestuurders. Salomo se suksesvolle regering was van bekwame leiers afhanklik. As jy so bietjie dieper lees dan sien jy hoedat hierdie manne uit vooraanstaande en bewese families gekom het. - met ander woorde met groot wysheid wys Salomo die leiers aan. - Ons lees ook hoedat hy die land in streke opdeel en `n bekwame mense as streekbestuurder oor elkeen aanstel. Doodeenvoudige goeie bestuur.

Hier het ons weer `n sprekende voorbeeld. - God seën mense wat op `n oordeelkundige wyse lewe. - Jou suksesvolle lewe, of dit nou jou persoonlike lewe is, jou geldsake of jou geestelike lewe. Sukses is `n vennootskap tussen jou en God. Jy het `n duidelike rol te speel.

En wat gebeur wanneer `n leier lei soos wat God van hom verwag?

Ons lees in Hoofstuk 4 en verder van Salomo se rykdom en voorspoed. Vers 21 sê dat Israel nooit vantevore so groot was as onder Salomo se ryk nie en dat dit daarna nooit weer sou wees nie. Kyk `n bietjie na die oorvloed waarin Salomo geleef het (:22) Salomo se daaglikse kosvoorrade was vyf ton fynmeel en tien ton broodmeel, 23 tien vetgevoerde beeste, twintig veldbeeste en honderd stuks kleinvee, behalwe nog takbokke, gemsbokke, ribbokke en vetgemaakte pluimvee.

:24 Skets vir ons hoe uitgestrek die wêreld was waaroor hy geheers het. En wat vir my mooi is is dat die voorspoed van Salomo se ryk ook gesorg het dat elkeen wat deel van sy ryk was in voorspoed en waardigheid geleef het. 'n Goeie leier se goeie regering bring voorspoed vir alle mense in sy ryk.

Ons lees in hoofstuk 5 van die suksesvolle diplomatieke betrekkinge wat in Salomo se tyd bestaan het. Ons lees hoedat God hom die genade gee om die tempel te mag bou. Ons lees in die hoofstukke 6-8 van die bou van die tempel, gaan kyk maar gerus na die pragtige detail daarvan. Ons lees van die inwyding van die tempel en van Salomo se toespraak by die inwyding van die tempel. Ons lees hoedat Salomo twee en twintig duisend beeste en honderd en twintig duisend stuks kleinvee as maaltydoffer geoffer het.

En dan lees ons hoedat God vir `n tweede keer in Salomo se regeringstyd aan hom verskyn in hfst 9: "Ek het jou gebed en jou smeking wat jy tot My gerig het, verhoor. Ek heilig hierdie tempel wat jy gebou het, sodat my Naam altyd daar sal wees. Ek sal altyd daarvoor sorg en daaraan dink. 4 En jy, as jy soos jou vader Dawid opreg en met oorgawe voor My leef en alles doen wat Ek jou beveel en my voorskrifte en bepalings nakom, 5 sal Ek jou heerskappy oor Israel bestendig. So het Ek jou vader Dawid belowe: Daar sal altyd iemand uit jou nageslag wees om oor Israel te regeer. 6 Maar as julle en julle nageslag van My af wegdraai en my gebooie en my voorskrifte wat Ek julle gegee het, nie nakom nie en julle gaan dien ander gode en buig voor hulle, 7 sal Ek Israel wegdryf uit die land wat Ek hulle gegee het, en sal Ek hierdie tempel wat Ek vir my Naam geheilig het, voor My wegvee. Ek sal Israel ‘n spot en ‘n skimp maak onder al die volke. 8 Ja, hoe uitsonderlik hierdie tempel ook al was, elke verbyganger sal dan van verbasing sy asem intrek en fluit en vra: ‘Waarom het die Here dit gedoen aan dié land en dié tempel?’ 9 En dan sal die mense antwoord: Omdat daardie volk die Here hulle God verlaat het, Hy wat hulle voorvaders uit Egipte gebring het. Hulle het hulle aan ander gode verbind en voor hulle gebuig en hulle gedien. Daarom het die Here al hierdie groot rampe oor sy volk gebring.

Weet jy wat val my die meeste op van alles wat ons hier oor die regering van Salomo lees? Is die feit dat Salomo wonderlik funksioneer. - Sy regering werk! Die land is rustig. Hy gaan aan met sy sake. Hy bou tempels en gaan tekere. Hy leef selfs in `n verhouding met die Here, die Here verskyn aan Hom en seën hom. Lees maar verder van die ongekende rykdom waarin Salomo lewe. Maar daar diep binne in weet ons iets is nie lekker nie. Die krake bestaan reeds in Salomo se regering. Aan die einde van hoofstuk 6 en die begin van hoofstuk 7: Hulle het sewe jaar aan die tempel gebou. Hfst 7:1 Aan sy paleis het Salomo dertien jaar gebou voor hy heeltemal klaar was daarmee.

Som op tot hier toe. - God seën iemand wat volgens sy wil lewe. God sal jou ryklik seën as jy Hom eer en aanbid en Hom die kern en die sentrum van jou lewe maak. God seen iemand wat hom werklik liefhet en Hom dien.

Maar wanneer hy begin om kompromieë te maak.. Ons is stilletjies by 1 Kon 3 `n interessante hoofstuk verby; hier sien ons die eerste krake in Salomo se mondering verskyn. Eers vertel vers 1-3 vir ons van die ooreenkoms wat tussen Salomo en die huis van die Farao gesluit word en sy huwelik met die farao se dogter. - En onmiddellik kom die vers in my gedagtes na vore: 2Kor 6:14 Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie. Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? Hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis? Die vraag bly staan: “waarom sluit Salomo hierdie verdrag?” Hy het dit nie nodig gehad nie. Isreal se weermag was nooit in die geskiedenis so sterk soos in die tyd nie. - Met God aan hulle kant was daar niemand in die Midde-Ooste wat vir hulle `n bedreiging was nie. - Maar tog gaan sluit Salomo die ooreenkoms met die Farao en sy huis. Waaroor gaan dit hier? Oor die verdrag of oor die Farao se dogter? In vers :3 lees ons verder: Salomo het sy liefde vir die Here betoon deur alles te doen wat Dawid, sy pa, hom voorgeskryf het. Hy het egter nog op die hoogtes offers gebring. Die een deel van die vers vertel van Salomo se liefde vir die Here maar tog is daar `n “egter” ingebou, die ander deel van die vers vertel van Salomo se gebrek aan totale toewyding. Die “hoogtes” was die plek waar die heidense volke aanbid het. Op die hoogtes het hulle `n monoliet opgerig as 'n falliese simbool en dan het hulle die fertiliteitsgode van die Filistyne daar aanbid. Die Jode het hierdie aanbiddingsplekke oorgeneem om God daar te aanbid. Maar dit was teen God se wil want daar het altyd `n vermenging van godsdiens plaasgevind.

Ons lees dus in een vers van Salomo se liefde vir God maar ook van sy gebrek aan totale oorgawe en toewyding aan God –As ons `n vergelyking kan tref tussen Dawid en Salomo se koningskap dan lê die verskil lê nie in die gehoorsaamheid aan God nie want ons weet dat Dawid nie `n sondelose mens nie. - Die verskil lê ook nie by hulle salwing tot koning nie – beide Salomo en Dawid is deur God aangewys tot koning. - Die verskil lê ook nie by die toerusting wat hulle van God ontvang om koning te wees nie – hier sou ek sê lê Salomo so `n kort kop voor Dawid, want God gee by geleentheid vir Salomo al die toerusting wat hy nodig het om `n goeie koning te wees.

Die verskil lê in die twee persone se “wandel” met God. Met ander woorde met hulle intieme verhouding met God. Waar die Bybel vol is van Salomo se wysheid, sy spreuke en selfs sy erotiese liefdeslied. Is die Bybel vol van Dawid se intieme gedagtes en worsteling met God. - Waar salomo oor God gepraat het het Dawid met God gepraat. - Dawid leef in `n intieme verhouding met God, selfs tussen sy sondes deur. En dit plaas Hom in `n ander klas. God wil dat ons in `n verhouding met Hom leef, nie dat ons Hom in Godsdiens moet dien nie. En Dawid gee dit vir sy seun as `n voorvereiste vir suksesvolle leierskap.

Hoeveel kompromieë is jy bereid om in jou lewe aan te gaan. - Wat is die kompromieë in jou lewe? - Geld? Besittings? Posisie? Verhoudings? Sekuriteit? Waar lê die krake in jou verhouding met die Here?

Maar as jou hart verdeeld raak voor God In Hoofstuk 11:1 kom Salomo se sonde uit die kas uit. Daar staan Koning Salomo was lief vir baie uitlandse vrouens.” ons het gedink hier is `n slang in die gras. Ons het jou al raakgesien met die dogter van die Farao Salomo. En dit terwyl Salomo baie duidelik bewus was van die Here se verbod op sulke verbintenisse. Hy het geweet dat die hulle teen die volke gewaarsku het: "Julle mag nie met hulle omgaan nie, en julle mag nie toelaat dat hulle met julle omgaan nie, want hulle sal julle net verlei om hulle gode te aanbid."

Dit bly vir my pragtig van God se gebooie. - God sê baie min in die Bybel: “jy mag nie, want ek sê so” - Maar Hy sê male sonder tal; “julle mag nie... want” - Hier sê die Here duidelik pas op vir hulle, hulle gaan julle tot afgodery verlei. Daar ver terug in Hoofstuk 3 het ons gelees van Salomo se huwelik met die dogter van die Farao, - Hier in hoofstuk 11 lees ons van Sy sewe honderd vroue uit koninklike families en sy drie honderd byvroue, - ook heidense vroue. Wat by een ou klein vergunningkie begin het het by `n duisend geëindig. En uiteindelik is dit die duisend vroue wat vir Salomo verlei om ander afgode te dien.

Maar as jy die Here nie meer met soveel toewyding dien nie (11:4)

In vers vyf en weer vers sewe word vier name genoem. Astarte. Milkom, Kemos en Molek.

Astarte was die godin van die maan, 'n fertiliteitsgod – die vroulike een van Baal 'n Kanaänitiese god. Die aanbidding van Astarte het saamgeloop met seksuele orgies en tempelprositusie.

Kemos, was die vis God van van die Moabite. Milkom en Molek was tien teen een dieselfde God, die God van die Ammoniete wat die offer van die eersgeborene gevra het. U sien die prentjie van die God met die arms. Die kindis in die arms geplaas en dan het die kind in die arms afgegly tot in die god se maag en is die kind daar binne in die maag deur vuur verteer. - Die kind se geskreeu kon gehoor word en so het die volke gesê - “hoor hoe praat ons god”

Sien u die verval? Wat begin het by seksuele orgies en tempelprostitusie, eindig by offers van kinders. En so kan ons die verval sien van een van die mees suksesvolle konings wat Israel nog gesien het.

Salomo is deur God aangestel. Hy is deur God toegerus, Hy is by uitnemendheid deur God geseën - ons kan selfs sê dat Salomo besonder suksesvol was. Maar al die tyd het salomo die kanker van sy eie val in hom rondgedra: - sy verdeelde hart. - Ja Hy het God liefgehad – dit het ons gelees. - Maar daar was ander dinge in sy lewe wat hy liewer gehad het as God – en dit lei uiteindelik tot sy val. Maardit lei nie net tot sy eenmalige veral nie, dit sit hom op `n pad van vernietiging. Wat by eenvergunningkie begin eindige by growwe sonde. Ons weet nie of Salomo deelgeneem het aan demoniese menseoffers nie, maar die Bybel sê dat hy uiteindelik daardie God aanbid het. My vraag aan jou vandag is: waar lê jou val? - Hy lê reeds vir jou en wag, jy is reeds van hom bewus. Tensy jy vandag klaar maak met daardie sonde van jou – hom vandag voor die Here offer, keel afsny, klaarmaak. Sal hy uiteindelik jou koninkryk vernietig dat daar niks van sal oorbly nie.

.

Stuur e-pos aan ds Piet Hattingh  As jy met Ds Hattingh oor die boodskap wil gesels.

Tuisblad / Ons mense / Skakel in / Preke / Nuusbrief / Jaarprogram / Leesprogram / Waarvoor ons staan / Geskiedenis / Kerkgebou / Fotogallery / Kranspoort