Tuisblad Ons Mense Skakel in Jaarprogram Ons Waardes Preke Kerkgebou Fotogallery GeskiedenisWitkerk-150 jaar Kranspoort witkerkoud

Die hele gebied oos van die huidige distrikte Volksrust, Middelburg en Groblersdal was reeds in 1846 in besit van Blankes. Daardie deel van die land was vroëer onder die beheer van die Swazi's, maar het in ruil vir 100 aanteelbeeste in die Blankes se besit gekom. Die ooreenkoms is op 25 Julie 1846 deur die koning van die "Solas" en kommandant W.F. Joubers van die blankes van die Republiek Lydenburg onderteken. Op 25 Oktober 1859 het die Volksraad van die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR) besluit om 'n dorp halfpad tussen Pretoria en Lydenburg tot stand te bring. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Lydenburg het die standpunt onderskryf. Op 28 Januarie 1864 het die N.G. Kerk van Lydenburg die plaas Sterkfontein van Lodewyk de Jager gekoop om ‘n kerksentrum te stig.  Met die koop van die plaas is daar dadelik gespesifiseer dat die naam van die sentrum Nazareth sou weees. Die voorstel van die naam Nazareth het van die konsulent-leraar van Utrecht en Lydenburg, ds. F. Lion-Cachet gekom. Die naam Nazareth beteken “ wortel uit die dorre aarde”. Dis was simbolies van die feit dat nieNG Kerk hier moes groei soos ‘n wortel uit die dorre aarde.

Nazareth is op 24 Februarie 1872 deur die Staatspresident van die ZAR as nuwe distrik geproklameer en A.B. Joubert is as landdros aangestel. Die dorp is aanvanklik as 'n kerkdorp gestig omdat die gebied wat deur dte gemeente Lydenburg versorg was, te moeilik was om vandaar te bedien. Die eerste kerkraadsvergadering van die nuwe gemeente Nazareth het op Saterdag 9 Maart 1876 onder voorsitterskap van ds Frans Leon Cachet plaasgevind. Hy het dan ook die eerste kerkdiens op die volgende dag gelei. Die volgende dag, Maandag 11 Maart is die hoeksteen van die eerste kerkgebou gelê, waartydens 'n toespraak deur ds A Merensky, sendeling van die Berlynse sendinggenootskap te Botshabelo gelewer is. Hierdie eerste kerkgebou of "noodkerk" is op 5 Oktober 1867 ingewy. Die baksteengebou was 15.25 meter lank, en het ‘n grasdak gehad.  Ds. John McCarter, die opvolger van ds. Lion-Cachet het die inwyding van die kerk waargeneem. Die kerk het spoedig te klein geword en’n nuwe kerk moes gebou word. Tydens ‘n vergadering op 9 Maart 1867 het ds. Lion-Cachet sy verbasing uitgespreek oor die reeds voltooide kerkgebou waarin die kerkraadsvergadering gehou kon word. Na die vergadering het ds Lion-Cachet ook ‘n nagmaalsdiens gehou.

Die nuutgestigte gemeente Nazareth se grense het 'n groot gebied beslaan, en het dorpe soos Vaalrivier (latere Ermelo), Komati (latere Carolina) en natuurlik Witbank ingesluit. Die geestelike werk in die gebied was ontoerykend aangesien die gemeente nie oor die dienste van 'n voltydse leraar beskik het nie.

Gedurende 1870 is die eerste leraar: proponent Jan Gysbert Kriel gesamentlik deur die gemeentes Nazareth en Lydenburg beroep en op 12 Maart 1871 te Lydenburg, en op 18 Maart 1871 te Nazareth in sy amp bevestig. Sondag 21 Maart 1871 het ds Kriel die eerste keer nagmaal aan die gemeente Nazareth bedien, en die volgende Sondag het hy drie kinders daar gedoop.

markstraat

Ingevolge die beroepsbrief, kon ds Kriel na afloop van 'n bepaalde tyd kies van watter gemeente hy leraar wou wees. Hy het hy op Vrydag 19 September 1873 bekend gemaak dat hy hom eerder op Lydenburg wil vestig. Die gemeente Nazareth moes dus 'n nuwe leraar bekom, en is proponent D.F. Bosman beroep. Hy is op 14 November 1874 georden en tot leraar bevestig.Hy het dadelik aan die werk gespring om probleme op te los en op 17 Maart 1875 is daar besluit om ‘n kerk te bouvan 27.4 meter by 10.6 meter. Dit sou dus aansienlik groter wees as die bestaande kerk. Na twee jaar is daar nog steeds nie met bouwerk aan die nuwe kerk begin nie. Die anneksasie van Transvaal deur Shepstone op 12 April 1877 het ook ‘n invloed op die kerkgebied gehad. Britse toepe het na die dorp gestroom. Aanvanklik het dit goed gegaan maar later het die troepe probleme begin veroorsaak. Op ‘n spesiale kerkraadsvergadring op 5 Oktober 1878 is daar besluit dat geen Engelse in die N.G. Kerk toegelaat sou word nie en dat Engels nie in kerk gebruik sou word nie.

Ds. Bosman se gesondheid het agteruit gegaan en hy het op 20 Desember 1880 die tuig neergele.Prof. N.J. Hofmeyr van die Kweekskool te Stellenbosch het twee proponente na Transvaal gestuur om die tekort aan predikante te verlig.  Een van hulle was proponent A.P. Burger. Hy het op 4 Januarie 1884 op die plaas Rietfontein in die Middelburg-distrik aangekom. Vandaar is hy na die dorp waar hy by P. Mare tuisgegaan het. Hy is op 11 Oktober in die amp bevestig en op 3 Desember is hy met mej. Janie Boshoff, doger van die tesourier-generaal van die Z.A.R. getroud.

Op 25 Januarie 1885 is daar ‘n algemene Kerkvergadering gehou om die vereniging tussen die Hervormde Kerk en die N.G. Kerk in die Z.A.R. te bespreek.  Die samesmelting is goedgekeur en op 26 Oktober 1885 kon ds. Burger  en sy kerkraad vir ds. D.P. Ackermann, konsulent van die Hervormde Kerk in Middelburg verwelkom. Ds. Ackermann het voorgestel dat die naam van die gemeente verander word van Nazareth na Middelburg. Die voorstel is goedgekeur. Die gevolg van die samesmelting was dat die kergebou weereens te klein geword het om die lidmate te huisves. Die dorp het teen hierdie tyd uit ongeveer 60 huise bestaan. Die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek op 23 Oktober 1874 besluit om die naam van die dorp amptelik te verander na Middelburg. Die verandering is twaalf jaar later eers goedgekeur toe die Sinode besluit het om die amptelike kerknaam Nazareth na Middelburg te verander.

Ná die besetting van Middelburg in Julie 1900 is 'n Britse garnisoen van ruim 30 000 soldate op die dorp gestasioneer. Daar was 'n groot konsentrasiekamp op die dorp gevestig. In die kerkhof van die konsentrasiekamp is 'n gedenkteken opgerig ter nagedagtenis aan die 1 381 persone, meestal wouens en kinders, wat daar gesterf het. Die eerste vredes onderhandelings tussen genl. Louis Botha en lord Kitchener het in Februarie 1902 op Middelburg plaasgevind.

Voor die gebou is Rooth Plein, vernoem na Theodore Rooth, die landmeter wat die dorp uitgemeet het. Tot omstreeks die middel van die vorige eeu was dit die vaste gebruik van die Nagmaalgangers, veral met April se groot Nagmaal, om per ossewa in te kom dorp toe en dan op die plein voor die kerk te kampeer vir drie of vier dae.Veral die April-Nagmaal was goed bygewoon wanneer voornemende lidmate veertien dae lank moes katkiseer en dan aangeneem en voorgestel is. Dit was 'n eg geestelike fees en 'n inspirerende gesig wat menige kunstenaar (veral die kunstenaar Willem Coetzer) die kwas of pen laat opneem het. Met die koms van die motorkar, is die plein ontwikkel as 'n rustige park (Van Blerk Park), met 'n Oudstryders-Ossewatrek monument en 'n gedenkteken ter ere van die gesneuwelde burgers van die Middelburg Kommando.
 
Toe daar 'n tydjie gelede gerugte die ronde gedoen het dat die nuwe stadsraad die park wil omskep in 'n geteerde parkeerterrein, was veral die ouer dorpsbewoners hewig ontsteld. Volgens hulle is die plein nog steeds kerkeiendom en nog nooit vervreem nie. Daar is tot vandag toe nog geen uitsluitsel oor die saak verkry nie.

Omdat die pragtige kerkgebou baie jare lank 'n aluminiumkleurige dak gehad het, het dit in die volksmond die naam: “Wit Kerk” gekry.

     
Tuisblad / Ons mense / Skakel in / Preke / Jaarprogram / Waarvoor ons staan / Geskiedenis / Kerkgebou / Fotogallery / Kranspoort